‘n 51-jarige man van Piketberg het ‘n boodskap op sy selfoon ontvang dat hy ‘n voertuig gewen het, maar om dit te kry, is egter op WhatsApp meegedeel, sal hy geld moet oorbetaal. Die goedgelowige “wenner” het R38 000 oorbetaal vir ‘n voertuig wat nie bestaan nie. Die polisie ondersoek ‘n saak van bedrog.
Op Vrydag 1 Augustus, omstreeks 01:50, het vyf gewapende rowers ‘n 25-jarige man in Vredenburg wakker gemaak. Hulle het hom met ‘n panga en vuurwapen gedreig voordat hulle hom op sy bed vasgedruk het. Hulle wou geld van sy besigheid, die Mayekiso-spazawinkel in Ongegund, hê. Die rowers het gevlug met selfone, ‘n kaartmasjien en twee pakke sigarette. Die polisie ondersoek ‘n saak van sakeroof.
‘n 35-jarige vrou is op Vrydag 1 Augustus om 13:45 in haar woning in Gansstraat, Witteklip, oorval deur ‘n man wat voorgegee het hy soek háár man. Die aanvaller het haar met ‘n panga aangerand en met haar selfoon gevlug. ‘n Saak van huisroof word ondersoek.
Op Saterdag 2 Augustus, omstreeks 03:52, het ‘n 43-jarige vrou die deur vir haar seun oopgemaak. Hy het haar gevra om ‘n ambulans te ontbied omdat haar broer met ‘n panga aange- rand is. Die volgende oomblik het ses mans haar huis binnegekom en goed begin rondgooi en haar na haar broer uitgevra. Die aanvallers het haar met die dood gedreig en geld geëis. Hulle het R400 gebuit.
‘n 45-jarige man van Riebeek-Wes moes mediese behandeling ontvang nadat ‘n rower Sondagoggend omstreeks 03:00 sy deur afgeskop en geld geëis het. Die rower het die klaer met ‘n panga oor die kop geslaan voordat hy van die toneel gevlug het.
Tussen Donderdag en Vrydag, 31 Julie en 1 Augustus, is 69 ooie ter waarde van R172 500 van ‘n plaas in die Malmesbury-omgewing gesteel.
Die lewelose liggaam van Alfonso Rosant (35) van Saamstaan, Malmesbury, is op Saterdag 26 Julie om 10:30 in Salsiestraat gekry met veelvuldige meswonde. ‘n Saak van moord word ondersoek.
’n 22-jarige man van Malmesbury is gehospitaliseer van 21 tot 25 Julie nadat hy die vorige Maandag om 11:50 deur ‘n groep mans in Kerkstraat, Kalbaskraal, aangeval is. Die aanvallers het hom met ‘n skoewedraaier aangeval en sy long beseer. Die man is ook in sy regterarm gesteek. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.
Op Sondagaand (27 Julie) omstreeks 20:10 is ‘n man glo nadat hy die voertuig waarin hy was, se deur oopgemaak het, van agter deur ‘n wit Volkswagen Polo gestamp. Die be-
stuurder van die Polo het uitgeklim en met die man gestry oor wie se skuld dit was. Die Polo-bestuurder het hom voorgestel as ‘n polisiebeampte en die man beveel dat hulle na sy huis gaan. Die Polo-bestuurder het glo sy vuurwapen uitgehaal en ‘n skoot na die man se bene afgevuur, die vuurwapen teen die man se kop gedruk en gedreig om hom dood te skiet. Die man het daarna in sy Polo geklim en weggery. Die slagoffer het die patroondoppie na die polisiekantoor geneem waarna konst. Thandiswe Siyathulo (35) in hegtenis geneem is. Hy het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.
Bjorgan Papier (26) van Hopefield het op Dinsdag 29 Julie in die landdroshof verskyn nadat hy die vorige Vrydagoggend in die strate met ‘n nagemaakte vuurwapen rondgeloop het. Papier het na bewering ook sy ma aangerand en gedreig dat hy ‘n polisiebeampte gaan “skiet”.
Conway Owies (18) van Witteklip, Vredenburg, was op Saterdag 27 Julie tussen 02:00 en 02:45 in ‘n bakleiery met sy neef oor ‘n bier betrokke. Die 18-jarige klaer wou tussenbeide tree om die rusie te stop toe Owies hom met ‘n mes in die bors gesteek het. Die slagoffer het mediese behandeling ontvang en Owies het op Maandag 28 Julie in die landdroshof verskyn.
Tien hoenders en ‘n waterpomp met ‘n geskatte waarde van R89 000 is iewers tussen Woensdag en Donderdag, 30-31 Julie, van ‘n plaas in die Riebeek-Wes-distrik gesteel. Terselfdertyd is ‘n koei ter waarde van R17 000 van ‘n plaas in die Malmesbury-omgewing gesteel.
’n 24-jarige vrou van Riebeek-Wes is Sondag 3 Augustus omstreeks 02:42 wakkergemaak deur ‘n geklop aan die deur. ‘n Man het haar aangesê om vir hom geld te gee anders gaan hy haar slaan. Die vrou het die geld aan hom oorhandig, waarna hy gevlug het. Die polisie ondersoek ‘n saak van roof.
‘n 31-jarige vrou van Betterlife in Vredenburg is op Saterdag 26 Julie in haar salon in Betterlife deur ‘n onbekende man oorval wat haar met ‘n vuurwapen gedreig het, hy het haar selfoon geëis en op die vlug geslaan. ‘n Saak van sakeroof word ondersoek.
Saterdag 26 Julie omstreeks 19:00 was ‘n 34-jarige man en sy broers tuis toe ‘n aanvaller die deur oopskop en hulle met ‘n vuurwapen dreig. Die rower het geld en selfone geëis en is met R500 kontant daar weg. Die rower het egter later teruggekom en die man met drank gegooi. ‘n Huisroof word ondersoek.
’n Mes met ‘n lem van 17 cm lank is Saterdag 27 Julie omstreeks 09:50 in ‘n 26-jarige man van Redelinghuys se besit gevind. Dié man het eers vir die polisie weggehardloop en in die bosse gaan probeer wegkruip, maar is aangekeer. Hy verskyn in September in die hof.
’n Onbekende man is Sondagaand (28 Julie) op die N7 naby Klawer deur ‘n vragmotor omgestamp. Die man is na die hospitaal geneem waar hy Maandagoggend aan sy beserings gesterf het.
Gregwill Cleophas (23) is Sondagoggend (28 Julie) om 00:45 in Mostertstraat, Wesbank, aangekeer met ‘n nagemaakte vuurwapen. Hy het Maandag in die hof verskyn.
Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van die onwettige besit van vermoedelik gesteelde goedere, die besit van vermoedelik huisbraak-implemente en die besit van ‘n gevaarlike wapen nadat Geraldo van der Horst (34) Sondagaand (28 Julie) in Markstraat, Vredenburg, aangekeer en met sy toestemming deursoek is. Polisie-pepersproei, ‘n mes en inbraaktoerusting is in sy besit gevind. Hy het op Dinsdag 29 Julie in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Twee buitelandse burgers is op Maandag 4 Augustus vasgetrek nadat hulle ‘n 40-jarige man wat op pad huis toe was, probeer ontvoer het. Die man het in Solomonsstraat in Riebeek-Wes geloop toe ‘n wit bakkie langs hom stilhou.
Die verdagtes het uitgespring, hom vasgebind en agterop die bakkie gelaai en weggery. Die man het om hulp bly skree en ‘n voetganger het die polisie gebel met ‘n beskrywing en registrasienommer van die voertuig. Die voertuig is raakgesien en voorgekeer.
Die ontvoerde man is nie beseer nie. Die verdagtes het in die rondgaande hof in die dorp verskyn op ‘n aanklag van ontvoering.
. Weslander stel weekliks ‘n vinnige oorsig oor die misdaadgebeure van die afgelope tyd saam, in samewerking met kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik.




