Vredenburg – Drie onbekende mans het verlede Donderdag (5 Maart) omstreeks 20:30 ‘n 32-jarige vrou se huis in George Kerridge binnegekom en haar gevra om saam met hulle na die sjebien langsaan te gaan. Met hul aankoms by die drinkplek is die vrou aangesê om R1 500 ” beskermingsgeld” te betaal. Die vrou wou weet waarom, want sy verkoop nie meer drank nie, waarop die mans glo weggeloop het. Drie dae later, op Sondag 8 Maart ongeveer dieselfde tyd, was daar weer ‘n klop aan die vrou se deur. Sy het gevra wie dit is, maar niemand het geantwoord nie. Die volgende oomblik het iemand twee skote deur die deur afgevuur en die huis ingekom. Twee van die vier verdagtes het na die vrou in haar kamer gegaan. Sy het weer benadruk dat sy nie meer drank verkoop nie, maar hulle het haar nie geglo nie en met ‘n knuppel in die gesig geslaan. Die aanvallers het haar selfoon en R40 gevat en op die vlug geslaan. Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van huisroof en afdreiging.
Vredenburg – ‘n 37-jarige man van George Kerridge is Sondagaand (8 Maart) deur sy buurman in kennis gestel dat iemand besig is om hul kragkabels te steel. Die klaer het ondersoek gaan instel en ‘n verdagte man agtervolg. Die volgende oomblik is skote op hom geskiet. Hy is gewond en sterk tans in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad aan. Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Clanwilliam – Rachell Essi Kallemeyer (25) is verlede Donderdag (5 Maart) om 17:20 op ‘n plaas in die Clanwilliam-omgewing met ‘n byl oor die kop gekap. Sy het op die toneel aan haar kopwonde beswyk. Hendriena van Rooy (36) van dieselfde plaas het op Maandag 9 Maart op aanklag van moord in die landdroshof verskyn.
Citrusdal – Getruida Swarts (47) is Saterdagaand (7 Maart) omstreeks 18:40 op ‘n plaas in die Citrusdal-omgewing met ‘n mes doodgesteek. Haar vermeende aanvaller, Estelle Douries (37), het ook Maandag in die Clanwilliam-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Vredenburg – Luke Mushakaranhu (37) is Saterdagogggend om 02:00 in Wilgerstraat in Witteklip met ‘n mes in die nek en onder sy arm gesteek. Hy het met sy aankoms by die Vredenburg- provinsiale hospitaal gesterf. Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
Malmesbury – Saterdagoggend (7 Maart) omstreeks 07:15 was ‘n groep jongmense agterop ‘n bakkie op pad na ‘n kerkbyeenkoms op die Riverlandspad toe
(N7 ) na bewering deur Ndivhuwo Mashay (28) se motor in die verkeerde baan van die pad af gestamp en gerol het. Lesedi Sithole (15) is oorlede. Nog twee tieners het ernstige beserings opgedoen en die ander vyf minder ernstig. Mashay het Maandag in die landdroshof op ‘n aanklag van strafbare manslag verskyn.



