Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met ‘n onlangse voorval by ‘n kuierplek in Velddrif waarin ‘n 43-jarige man ernstig aangerand en sy bakkie beskadig is nie.
Die aanranding van twee mans nadat hulle uit ‘n kuierplek gekom het, het wye kommentaar op sosiale media ontlok, maar volgens kapt. Tania Helfrich is niemand nog in hegtenis geneem nie en die saak word nog ondersoek.
Volgens inligting wat aan die polisie deurgegee is, is ‘n 43-jarige man en sy 21-jarige seun glo Sondag 1 Junie omstreeks 02:00 naby ‘n kuierplek in die Laaiplek-hawe deur ‘n groep mans aangerand. Die pa is met kopbeserings in die hospitaal opgeneem en die speurders by die Laaiplek-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Helfrich het gesê die skade aan die pa se voertuig beloop R20 000 en die aanvallers het na bewering ook die bakkie se sleutels, twee selfone en persoonlike eiendom ter waarde van altesaam R15 200 uit die voertuig gesteel. As gevolg hiervan is ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging en diefstal geopen, wat ook ondersoek word.
Die 21-jarige man het verder ook ‘n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangemeld.
Presies hoe die gebeure verloop het, is deel van die polisieondersoek.


