Susan Havenga trots by haar blomme.Foto: Noluvu Ludidi


’n Natuurliefhebber van St. Helenabaai se hande staan vir niks verkeerd nie.

Susan Havenga sê sy het haar liefde vir tuinmaak al in haar kinderjare ontdek.

As die oudste van agt kinders het Havenga altyd gereeld plante en blomme met die hulp van haar ouma geplant.

Hierdie passie leef sy nou nog op die ouderdom van 85 jaar uit.

“Ek woon tans by my seun in St. Helenabaai, maar die ruimte waarin ek plant, is beperk,” vertel sy.

Havenga het in April haar eerste blomme geplant en ten spyte van die uitdagings spog sy met ’n indrukwekkende blommeprag wat talle bure se aandag trek.

Van pienk tot pers en al die kleure van die reënboog spog Havenga met petunias, malvas en meer.

Sy vertel met heimwee van haar oorlede man wat ook ’n liefde vir plante gehad het. “Ons het saam in die tuin gewerk, maar met my man se dood was dit vir my eers moeilik om aan te gaan, maar ek het besef om te plant, was altyd vir my soos ’n wegbreek.”

Haar seun, Jaco Havenga, vertel vandat hy kan onthou as kind, het sy pa en ma ’n liefde vir tuinmaak gedeel. “My pa het nooit grond besit nie, maar hy het altyd groente geplant en altyd die hele gemeenskap verwelkom om self te kom pluk.”

Wanneer dit kom by plante, raai Havenga ander aan dat beplanning die resep vir sukses is en om altyd gretig te wees om te leer.

Sy sê ook dis meer as net plante en blomme plant, “maar alles begin in jou hart van liefde en omgee”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article