Die leerders Anre Dietrich, Eughan Noah, Caywin Solomons en Rushin Adams.Foto: Noluvu Ludidi


Graad 7- en 8-leerders van verskeie skole in die Bergrivier-munisipali­teit het hul droom vir hul dorp op sketse gesit.

Die leerders het deelgeneem aan die MyDorp-inisiatief wat daarop gemik is om die jeug aan te moedig om aktief betrokke te raak by die openbare deelname en beplanning van hul gemeenskap.

Lauren Philander van Initiative for Community Advancement, wat deel is van hierdie inisiatief, sê as ’n mens na die jeug van vandag kyk, besef jy hulle is die leiers van môre. “Hulle het die krag om ’n beter toekoms te skep, nie net vir hulself nie, maar vir almal om hulle.”

Philander verduidelik die MyDorp-program het ’n duidelike visie om jongmense aan te moedig om hul droomdorp te visualiseer, te skets en dit selfs as skaalmodelle te bou. Die sketse is op Woensdag 30 Augustus in die kunsateljee in Piketberg bekend gestel.

Graeme Lottering, ’n gr. 8- leerder aan Steynville Sekondêre Skool, en Rushin Adams, ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Piketberg, sê albei dit was opwindend om deel te wees van hierdie projek. Al twee leerders glo hul sketse en die visie wat hulle vir die dorp het, sal voordelig wees vir veral jongmense. Hulle wil hul dorp sien floreer en net positiwiteit sien.

Ray van Rooy, burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, sê hy is baie beïndruk met elke leerder. “Ek is bly dat daar jong mense is wat opgestaan het om deel te wees van die ontwikkeling van hul dorp. Ek is baie trots op hulle en opgewonde. Daar het goeie voorstelle na vore gekom.”

Van Rooy sê dit is fantasties om die ontwikkeling van die dorpe uit die oogpunt van die leerders te sien.

Philander voeg by die inisiatief gaan nie net oor die bou van skaalmodelle nie, maar ook oor die bou van leierskap, gemeenskapsinisiatief en burgerlike betrokkenheid.

“Deur hierdie program wil ons nie net jongmense motiveer om meer belangstelling te toon in die regeringsproses nie, maar ons wil ook aktiewe burgers kweek wat bereid is om verantwoordelikheid vir verandering te aanvaar.”

Die modelle sal uitgestal word by openbare plekke en samekomste.

Hou Initiative for Community Advancement se Facebook-blad dop vir aankondigings.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article