Malmesbury se netbalspan het in nog ’n suksesvolle Twizza-kompetisie koning gekraai.
Inge Theron, wedstrydsekretaresse van die Weskus Netbal-federasie, het weer ’n suksesvolle kompetisie vir die federasie gereël, hoewel weersomstandighede en beurtkrag wedstryde telkens vertraag het.
Die wedstryde is uiteindelik Maandagaand (18 Julie) vir die halfeindstryd hervat en die eindstryd Dinsdagaand (19 Julie) in Moorreesburg.
Die vier Weskus-spanne – Malmesbury, Langebaan, Moorreesburg en Citrusdal – het dit geniet om weer op die baan te wees en het uitstekende netbal gespeel.
Sydney Crow van die Moorreesburgse Tiere-netbalklub is as die speler van die toernooi aangewys, terwyl Beulen Lazerus van die Langebaan-netbalklub die beste binnebaanspeler in die kompetisie was.
Die kompetisie se uitslae was: Malmesbury in die eerste plek, gevolg deur Langebaan. Moorreesburg en Citrusdal het onderskeidelik in die derde en vierde plekke geëindig.
Malmesbury en Langebaan het die afgelope Saterdag ook aan die Wes-Kaapse Twizza-kompetisie in die Paarl deelgeneem.
Die Weskus-federasie se spanne het hulle goed van hul taak gekwyt en gewys geen plaaslike klub hoef vir die res van die provinsie terug te staan nie.
Die span van Marchelle Maroun (Langebaan) het tweede geëindig en die span van Nadene Scherman (Malmesbury) was in die vierde plek.
By die Paarl-aflewering is Beulen Lazarus as beste opkomende senterbaanspeler aangewys en Ansune Smit op haar beurt as beste opkomende verdediger.





