Die gemeenskap van Laingville, wat nog herstel van een tragedie, is weereens deur die noodlot geruk.
Drie vissermanne se lewens is kortgeknip nadat hul boot naby Shelly Point, St Helenabaai, op Vrydag 15 Augustus omgeslaan het.
Volgens Thyrone Williams, raadslid, is die gemeenskap verpletterd. Dit is net ‘n week ná die motorongeluk wat die lewens van drie gesinslede – Randy Fillies, Rachèma Fillies en Heidi Alexander geëis het. “Ons gemeenskap is nog besig om te rou en toe skielik gebeur hierdie tragedie,” sê Williams.
Die voorval het laatmiddag gebeur. Nooddienste is na die toneel ontbied en ná ‘n intensiewe soektog deur Nasionale seereddingsinstituut (NSRI) is al drie vissers se liggame gevind. Die boot is omstreeks 19:00 uit die water gesleep. Medelye het van oral op sosiale media ingestroom.

Die drie vissermanne se boot is uit die see naby Shelley Point getrek. Foto’s Danie Hefers






You must be logged in to post a comment.