Boere in die Noord-Kaapse dorp Williston staar steeds ernstige droogtetoestande in die gesig, met uitgedroogde lande en diere wat sukkel om genoegsame voer te kry. Verskeie organisasies het reeds hande gevat om die boeregemeenskap by te staan.
As deel van hierdie pogings het die NG kerk se Laaiplek-gemeente op Vrydag 20 Februarie met vragte goedere na Williston vertrek om verligting aan die droogtegeteisterde gemeenskap te bring.
Die gemeente is sedert 2019 by uitreik-aksies na Williston betrokke en volgens hulle bly die nood in die dorp ‘n saak van liefde vir hul naaste. Vanjaar is die hulp met vier voertuie, ‘n sleepwa asook een vragmotor vervoer.
Wilhelm Visser en sy vrou, Anja, van Graafwater, het die vragmotor saam met hul bure volgemaak en self gehelp om die skenkings af te laai. Ten spyte daarvan dat plaaslike boere in die Weskus-omgewing self verlede jaar ‘n moeilike droogte beleef het, het hulle steeds hul harte en hande oopgemaak.
Hannes Pienaar het twee ton lupiene geskenk, terwyl ruim bydraes van hondekos, druiwe, skaapmedisyne en aartappels ontvang is. Plaaslike fabrieke het ook gehelp met die skenking van blikkies vis. Skryfbehoeftes vir skole is ingesamel en die gemeente het 80 komberse vir ouer mense gehekel, asook 50 bederfpakkies vir vroue saamgestuur.
Die voertuie is deur ds. Charl en Louise van Rensburg, Nickie en Elaine Oosthuizen, Jaap en Gerda van Wyk, en Klaas en Anlo van Zyl beskikbaar gestel.
Verskeie instellings is tydens die uitreik besoek. Volgens ds. Charl is die ACVV Amandelhof-tehuis besoek, waar elke inwoner druiwe, ‘n kombers vir die winter, dadellekkers en droëvrugte ontvang het. Die tehuis het ook vyf sakke aartappels en ‘n krat tamaties gekry en almal het saam tee gedrink en gekuier.
Die span het ook Badisa se Huis Immanuel besoek, waar elke inwoner ‘n winterkombers, droë vrugte, druiwe en dadellekkers ontvang het. “Dit is ‘n wonderlike tehuis met personeel om op trots te wees,” het ds. Charl gesê.
Verder het Williston Junior Kollege en die Pretplaas-kleuterskool skryfbehoeftes en ‘n “Brain Buddy”- les ontvang.
Die uitreikspan is in Williston deur Theresa Jordaan, wat van die goedere by die plaaslike koöperasie ontvang het, verwelkom. Van daar af sal dit na boere in die distrik versprei word.
Jordaan het haar diepe waardering in ‘n dankbrief uitgespreek en die Laaiplek-gemeente as “engele met ‘n lyf” beskryf – “mense wat hoop, liefde, omgee en bemoediging in ‘n tyd van moedeloosheid gebring het”. Sy het afgesluit met ‘n gebed vir seën, bewaring en reën oor die dorre land.
Die naweek is afgesluit met ‘n erediens Sondagoggend waar ds. Charl die boodskap bedien het.
Die uitreik word deur die gemeente as ‘n getuienis van omgee, samewerking en hoop beskryf, selfs te midde van moeilike omstandighede.





