Jak de Priester sal sy verskyning maak by die Weskus-Kuierkonsert.

Die Weskus-kuierkonsert op Saterdag 7 Maart by die Laaiplek-hotel in Velddrif beloof weer ‘n dag vol opwinding en pret. Die fees het sy oorsprong in 2022 gehad.

Vanjaar tree bekendes soos Snotkop, Jak de Priester, Desmond Wells en talentvolle plaaslike kunstenaars soos Gerrie West, Bokkom & V’tsek, en Ek’s Nadia op.

Nog hoogtepunte is die Fear Factor-kompetisie waar Ougat Bouers geldpryse vir die 1ste-, 2de- en 3de-plek-wenners aanbied – onderskeidelik R2 000, R1 000 en R500. Die kindervermaak bars weer uit sy nate met pret en plesier en kinders van alle ouderdomme kan in die lekkerkry kom deel.

Snotkop is een van die kunstenaars wat gaan optree.

Volgens Steyn Fourie, die stigter, is ‘n sleutelfokus van die Weskus-kuierkonsert die positiewe invloed wat dit op die hele dorp het. “Die fees skep ‘n lewendige atmosfeer en gee ‘n betekenisvolle ekonomiese hupstoot aan die omgewing as geheel.”

Die fees sluit elke jaar ook ‘n gemeenskapsopheffingsprojek in. “Vanjaar bederf ons bejaardes met skootkom- bersies, mussies, serpe ensovoorts. Om terug te gee, lê ons na aan die hart, en hierdie inisiatief stel die fees in staat om werklik ‘n verskil te maak – buiten die vermaak,” voeg Fourie by.

‘n Groot strandpartytjie vir 10 mense by Draaihoek Lodge sal opgeveil word.

Vir skaduwee, veilige parkeerplek en goeie herinneringe … wees om 15:00 daar wanneer die hekke open. Ondersteun die stalletjies en smul lekker by al die kosverkopers.

Kaartjies is aanlyn te koop by weskustickets.co.za of by die Laaiplek Spar, sowel as die dag van die konsert by die hek.

Kaartjiepryse beloop vir volwassenes R149, hoërskoolkinders R79, laerskoolkinders R49 en pensioentrekkers R99.

Voorskoolse kinders en almal ouer as 90 jaar kan die konsert gratis bywoon.

Program

15:00: Gerrie West

15:45: Ek’s Nadia

16:15: Fear Factor

17:30: Jak de Priester

18:30: Bokkom en V’tsek

19:15: Desmond Wells

20:00: Veiling

20:30: Glowstick-danskompetisie

21:00: Snotkop

22:30: DJ Clarity

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article