KOMMENTAAR | ‘Vetkol’ hou vloede weg van Saldanhabaai- munisipale area

Hoofartikel | Editorial Comment

Terwyl groot dele van die Wes-Kaap die afgelope dae onder stormweer deurgeloop het, het die Saldanhabaai- munisipale ge-bied eintlik betreklik lig daarvan afgekom.

In Weslander se wyer verspreidingsgebied, soos in die Cederberg, is paaie weggespoel, dorpe van die buitewêreld afgesny en sommige inwoners selfs sonder water gelaat – ironies genoeg te midde van aanhoudende reën.

In die Bergrivier- munisipale gebied het ‘n laagwaterbrug tussen Velddrif en Piketberg oorstroom.

Teenoor dié tonele van modder, skade en ontwrigting voel ‘n paar nuwe slaggate en poele water in ons strate amper gering.

Ja, daar was skade. In Vredenburg het ‘n muur by die sportgronde omgeval. Bome is op verskeie plekke ontwortel en het eiendom en paaie beskadig. Middelpos op Saldanha, wat dikwels swaar deur winter- weer getref word, het hierdie keer selfs minder verspoeling as gewoonlik ervaar. Kragonderbrekings was meestal kortstondig en noodspanne kon vinnig reageer.

Ons woon in ‘n gebied wat steeds grootliks funksioneer terwyl ander gemeenskappe letterlik afgesny sit.

Ons winkels is oop, verkeer beweeg en die meeste inwoners slaap veilig en warm in hul huise. Die gebied kry sy deel van winterstorms, maar hierdie keer het die ergste ons grootliks verbygegaan.

Ons kan dalk net ‘n bietjie dankbaar wees vir die onsigbare “vetkol” oor ons gebied waaroor Weskussers altyd terg.

Die koue en nat weer bly verkieslik bo waterbeperkings weens droogtetoestande.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article