Joshlin Smith is op dié foto vyf jaar oud.
Joshlin Smith is op dié foto vyf jaar oud.

Kelly Smith het vandag nog voor die hofverrigtinge kon begin, aangedui dat sy mediese hulp benodig.

Sy word saam met Boeta Appolis en Steveno van Rhyn van die ontvoering en verkoop van haar dogter, die sesjarige Joshlin Smith van Middelpos, Saldanha, aangekla.

Kelly Smith moes weerskante ondersteun word by die hofsaal in. Foto’s: Alida Buckle

Regter Nathan Erasmus, die voorsittende beampte in die hooggeregshofverrigtinge in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, het gelas dat Smith uit die saal vergesel word. ‘n Bietjie later kon gesien word dat sy deur twee paramedici uit die gebou gelei word.

Sy is in die Vredenburg- provinsiale hospitaal behandel en is later terug na die selle by die Langebaan-polisiestasie geneem waar sy vir die duur van die hofverrigtinge aangehou word.

Die departement van gesondheid wou nie haar mediese besonderhede bekend maak nie.

Die ondervraging van verskeie polisiebeamptes betrokke by die ondervraging van Appolis en Van Rhyn het vandag steeds voortgegaan sonder Smith se teenwoordigheid. Erasmus het verduidelik die Strafproseswet maak voorsiening vir sulke situasies.

Kol. Edward William Clark het getuig oor die oggend op Dinsdag 5 Maart 2024 wat hy  ʼn bekentenis by Van Rhyn begin afneem het. Dit is kortgeknip omdat die beskuldigde honger was en wou pille drink.

Van Rhyn het vandag kierts regop gesit met sy arms oor mekaar gevou op die tafel voor hom.

Kol. Edward Clark getuig oor die verklaring wat hy by Steveno van Rhyn probeer afneem het.

Hy het dieselfde oggend aan  ʼn dokter by die Vredenburg- provinsiale hospitaal gesê hy het glo die vorige dag van  ʼn privaatbakkie af geval en daarom was sy knieë en voorarms gekneus.

Op  ʼn vraag van Van Rhyn se regsverteenwoordiger, Nobahle Mkabayi, het dr. Hendrik Jacobus Nel, wat virtueel getuig het, toegegee dat die beserings wat Van Rhyn en Appolis gehad het toe hy hulle ondersoek het, ooreenstem met die martelmetode wat volgens hulle gebruik is.

 ʼn Video met baie swak klank is gewys van Van Rhyn se tweede probeerslag om  ʼn bekentenis af te lê. Dié keer het kapt. Philip Seekoei die verklaring afgeneem.

Erasmus het gesê hy sal die video na afloop van die verrigtinge kyk, want hy kon ook nie hoor nie. Hy het ook gekla oor die transkripsie van die video wat nie die gesprek in die video woordeliks weerspieël nie. “Al is die klank sleg, kan ek hoor daar word baie meer gesê.”

Regter Nathan Erasmus.

Hy het ook sy misnoeë met die swak transkripsie uitgespreek. “Dit is so ‘n belangrike saak wat handel oor ‘n vermiste kind.”

Hy het aan adv. Zelda Swanepoel, vir die staat, gesê die dokument is slordig en dat dit te kortliks geskryf is.

Die verrigting gaan weer Vrydag 4 April voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article