Die verwoesting aan Perronweg nadat vandale kabels gesteel het. Foto: Danie Hefers
Die verwoesting aan Perronweg nadat vandale kabels gesteel het. Foto: Danie Hefers

Kabeldiewe oor die land heen is jaarliks verantwoordelik vir miljoene rande se skade aan waardevolle munisipale infrastruktuur. Ook hier in die Weskus, waar waaghalsige metaaldiewe en vandale die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM) plek-plek meedoënloos teiken. Dié plaaslike regering het onlangs sy ernstige kommer oor die toename in vandalisme en kabeldiefstal in dorpe soos onder andere Vredenburg uitgespreek.

Dit blyk dat goedgeorganiseerde misdaadsindikate inderdaad hul gulsige kloue gebruik om noodsaaklike infrastruktuur stelselmatig te stroop en te verwoes.

'n Lugfoto van die pasgeboude Perronweg. Foto: Siroccon
‘n Lugfoto van die pasgeboude Perronweg. Foto: Siroccon

Metaalheinings word op groot skaal langs die R45, ‘n besige provinsiale pad buite Vredenburg, gesteel. Straatligte op die dorp se pale word eenvoudig op grondvlak afgesaag en teerstrate word oopgekap om by waardevolle elektriese kabels uit te kom.

Een van die skokkendste voorvalle van goedbeplande kabeldiefstal het tot die onlangse sluiting van ‘n pad in dié hoofdorp van die SBM gelei, waar “dapper” misdadigers die nuwe multi-miljoenrandse Perronweg buite die Louwville-woonbuurt se straatligte verwoes en ondergrondse kabels gesteel het.

John Render (links) en Ettienne Swanepoel van Siroccon is verstom oor die skade wat duidelik deur 'n groot laaigraaf of soortgelyke toerusting veroorsaak is.  Foto: Danie Hefers
John Render (links) en Ettienne Swanepoel van Siroccon is verstom oor die skade wat duidelik deur ‘n groot laaigraaf of soortgelyke toerusting veroorsaak is. Foto: Danie Hefers

Dié strooptog het duur skade aan die pad se een stutwal veroorsaak, met boublokke en ‘n metaalheining op die padskouer, wat weens slote op die padskouer omgetuimel en die padsluiting genoodsaak het. Dit blyk dat kabeldiewe selfs gesofistikeerde toerusting soos slootgrawers en kraggereedskap gebruik om by hulle misdaadbuit uit te kom.

Hennie April, ‘n Louwville-inwoner en bekende gemeenskapsleier, meen egter dié padskade is veroorsaak deur ‘n kombinasie van vandalisme én swak padbeplanning. Volgens April is die padskouer en wal aan die oostekant van Perronweg te smal om die padgewig te dra en het dit tot grond- erosie gelei.

“Die gronderosie en onlangse reën het ‘n groot rol gespeel wat tot die ineenstorting van die padwal gelei het – nie net vandalisme nie. Na mý mening was dit 20% vandalisme en 80% swak beplanning. Ons infrastruktuur moet ook beter beskerm word.”

Weslander het die projekleier, Ettienne Swanepoel van Siroccon International in Langebaan, vir kommentaar genader. Volgens Swanepoel, wat die toneel in Perronweg saam met Weslander en ‘n Siroccon-werknemer, John Render, besoek het, was kabeldiefstal en die doelbewuste verwydering van die stutwal se blokke, sonder twyfel die oorsaak van die skade aan Perronweg en was daar geen stormwaterinvloed nie. “Die skade is tragies en toon geen respek vir infrastruktuur en belastingbetalersgeld nie. Dit gaan ses tot agt weke neem om te herstel.”

Hennie April, ‘n Louwville-inwoner en bekende gemeenskapsleier, by die rommel wat van die steunmuur oorgebly het. Foto: Danie Hefers.

Die SBM wys óók die vinger na vandalisme as die primêre oorsaak van die betrokke padsluiting en skade aan infrastruktuur.

Volgens Tereza Burger, die SBM se woordvoerder, is geld nou beskikbaar om met die nodige herstelwerk aan Perronweg te begin.

Burger sê interne prosedure is gevolg en inspeksies is in Perronweg gedoen na aanleiding van die skade aan die infrastruktuur. Skade is ook volgens die polisie se teen-vandalisme-kode aangemeld.

“Geld is geïdentifiseer en die SBM werk daaraan om ‘n diensverskaffer (in ‘n konsultasiehoedanigheid) aan te stel.”

Volgens Burger sal ‘n kontrakteur aan- gestel word sodra tenderprosesse afgehandel is. Stabilisering van die padwal en herstel aan die padoppervlakte sal dan begin.

“Aandag sal gegee word aan alternatiewe metodes om die elektriese infrastruktuur, wat deur die misdadigers geteiken is, te vervang,” sê Burger.

Volgens haar is die konstruksie van Perronweg volgens beste praktyk-standaarde deur die SBM bestuur en is die voorsieningskettingbestuur noukeurig nagevolg.

Luidens ‘n mediaverklaring wat die SBM verlede maand uitgereik het, het 16 ernstige voorvalle waar munisipale infrastruktuur deur vandale geteiken en beskadig is, in Junie vanjaar voorgekom.

‘n Beroep is tóé op inwoners en gemeenskappe gedoen om saam te staan en strate en woonbuurte veel beter te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article