Slaggate en modderige padtoestande maak dit vir Hopefield-inwoners moeilik om dié pad te gebruik.

‘n Inwoner van Hopefield is keelvol vir die slegte toestand van paaie in die dorp.

Volgens dié inwoner is sy en ander inwoners van Kerkstraat en Rivierstraat, noord van Hopefield, moeg vir die toestand van hul pad. Die inwoner meen baie mense woon al langer as nege jaar daar en versoek die munisipaliteit al sedert 2016 om die pad reg te maak. Slaggate, grondpaaie en modderige toestande maak dit onmoontlik om daar te ry.

“Aangesien dit ‘n residensiële pad is, het ons al ‘n petisie ingestuur en so ook al talle kere met die verantwoordelike mense in die Vredenburg- en Hopefield- munisipaliteite oor die pad in verbinding getree. Hulle het in 2016 gesê hulle sal na die pad kom kyk en het wel die pad kom meet en met groot beloftes gekom, maar niks verder nie. Van toe af word die pad net so nou en dan geskraap en verder niks. Elke jaar word foto’s en e-posse aan al die betrokke amptenare gestuur, maar [ons hoor] steeds niks van die munisipaliteit se kant af nie.”

Die inwoner sê water loop in hul erwe juis omdat daar geen stormwatersloot of -pyp is wat die water kan weglei nie. “Om nie eens te praat van Rivierstraat onder ons nie, wat elke jaar onder water is en die inwoners hul voertuie bo moet kom parkeer net omdat hul nie uit hul eie erwe kan kom nie.

“Dié deel van die dorp word altyd agtergelaat.”

Wat nog meer onstellend vir die inwoner is, is ‘n straat in die dorp, wat nie soveel probleme ervaar soos inwoners in Kerk- en Rivierstraat nie, onlangs geteer. “Genoeg is nou genoeg; ons is moeg gesukkel. Ons betaal ook munisipale rekenings en belasting. Ons het ook die reg op geteerde paaie sonder gate.”

Volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, is die versoek geregverdig om die paaie (Kerk- en Rivierstraat aan die noordekant van Hopefield) struktureel op te gradeer en dit sal na die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan verwys word.

“Die ontwerp van en bouwerk aan Kerk- en Rivierstraat sal dienooreenkomstig na die toepaslike munisipale kapitaalbegrotingsplan vir goedkeuring en implementering verwys word. Dié stappe is deel van ‘n langer-termyn-oplossing. Diée strate is grondpaaie met ‘n lae verkeerslading. Die toestand van die oppervlakte word as redelik beskou, maar ongelukkig met ‘n baie lae padvlak en swak dreinering.”

Burger sê wat die bestaande, korter termynoplossing betref, is die skraapwerk en onderhoud deel van ’n voortgesette padinstandhoudingsprogram.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article