Die bekamping van kabeldiefstal is noodsaaklik. Afriforum ontwikkel tans ‘n opleidingsmodule om buurtwaglede met die kennis om hierdie misdaad doeltreffend aan te durf, te bemagtig.

Volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is kabeldiefstal ‘n landwye pro-bleem – ook in die Wes-Kaap.

Infrastruktuur wat geraak word, sluit in spoorlyne, Eskom-lyne, munisipale infrastruktuur en nywerheidsgebiede. Strukture naby veral informele nedersettings word geteiken. Kabels word ook by munisipaliteite, plase en fabrieke gesteel.

Diewe steel koperkabels omdat dit ‘n hoë herverkoopwaarde het.

Minder aluminiumkabels word gesteel, terwyl kabels in telekommunikasielyne ook gesteel word.

Die ekonomiese invloed van kabeldiefstal is reusagtig. Eskom meld jaarliks meer as R2 miljard se verlies aan, terwyl Transnet in 2022 meer as R1,6 miljard se verlies weens kabeldiefstal aangemeld het. Meer as 20 000 gevalle word elke jaar landwyd aangeteken. Sulke kragonderbrekings raak ondernemings, huishoudings, hospitale en skole. Treinverkeer word verlam en nywerhede stagneer.

Die verbranding van kabelhulsels veroorsaak lugbesoedeling en kabeldiefstal kan weens elektriese skokke tot lewensverlies lei.

Broodryk glo die meeste kabeldiefstal word deur georganiseerde sindikate uitgevoer.

Hulle het voertuie, toerusting en vermom hulself dikwels selfs as kontrakteurs.

Dié sindikate steel kabels in samewerking met korrupte amptenare en skrootwerwe.

Die gesteelde koper word dan plaaslik of internasionaal verkoop.

Navorsing wys China is die grootste koper van skrootmetaal uit Suid-Afrika en sowat 85% skrootmetaal (wettig én onwettig verkry) kom uit Suid-Afrika. Sommige sindikate is ook gewapen en bied selfs “sekuriteit” tydens diefstalle.

Die gesteelde kabels word dikwels verbrand om die plastiekomhulsel te verwyder. Dit veroorsaak ernstige lug- en grondbesoedeling. Daarna word die gestroopte kabels – sonder die nodige dokumente – aan skrootwerwe verkoop. In sekere gevalle word die kabels gesmelt en as herwinde produkte verkoop, terwyl dit in ander gevalle as afvalmateriaal by informele skrootwerwe eindig.

Die polisie het spesiale taakspanne op die been gebring en doen ook inspeksies by skrootwerwe. Buurtwagte vervul ‘n aktiewe rol in die bekamping van dié en ander misdade. Transnet se filiaal Transnet Freight Rail beskik oor sy eie veiligheidsgroepe, terwyl Eskom GPS-opsporing en -alarms op sekere kabelroetes ingestel het om hierdie misdaad hok te slaan.

Sommige metropolitaanse munisipaliteite, soos die Stad Kaapstad, het ook hul eie spesialiseenhede op die been gebring.

Ongelukkig word kabeldiewe nie altyd suksesvol vervolg nie. Die skuldigbevindingskoers vir kabeldiefstal is laag. Die howe is oorlaai en ondersoekspanne het nie altyd toegang tot die nodige forensiese hulpbronne nie. Baie oortreders word op borgtog vrygelaat of die minimum straf opgelê.

‘n Paar suksesverhale in die vervolging van kabeldiewe kan wel vertel word:

In een geval is ‘n kabeldief in Junie vanjaar 15 jaar tronkstraf opgelê vir die diefstal van meer as 400 kg koperkabels in Kraaifontein. Dié en soortgelyke suksesse kom hoofsaaklik danksy die werk van gespesialiseerde vervolgingseenhede.

Broodryk stel die implementering van streng regulasies vir die skrootmetaalbedryf sowel as ‘n verbod op kontanttransaksies vir die verkope van koper voor. “Daarbenewens moet intelligensie aangaande kabeldiefstal sentraal gekonsolideer word om inligting van Eskom, die polisie, Prasa, Transnet en plaaslike veiligheidstrukture soos buurtwagte byeen te bring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article