Die kaai nadat herstelwerk begin het. Foto’s: Noluvu Ludidi

Die toestand en instandhouding van die Rooibaai-kaai is al vir jare ‘n kommer vir baie inwoners.

Vrese dat ‘n ernstige voorval sou kan plaasvind, het in September 2025 ‘n nare werklikheid geword toe Roscoe Erasmus (13) in die kaai verdrink het.

Inwoners meen hulle het vir jare al hul kommer luidkeels geuiter en die Bergrivier-munisipaliteit (BM) gemaan om verantwoordelikheid vir die instandhouding van die kaai te neem. Dit is egter eers onlangs dat inwoners herstelwerk by die Rooibaai-kaai sien plaasvind.

Volgens Matthew Sheldon, ‘n woordvoerder vir die BM, is die kaaie by Rooibaai deur die nasionale departement van openbare werke opgerig.

“Die Bergrivier-munisipaliteit het weens kommer van die publiek ingestem om sedert 2020 ‘n huurooreenkoms met die Nasionale Departement van Openbare Werke aan te gaan om te sien of ons die nodige finansiering kon bekom om met die opgradering van die kaaie en die helling te help. Teen 2020 was dit reeds in ‘n baie vervalle toestand.

“Die munisipaliteit stem saam dat baie werk aan die Rooibaai-kaaie nog gedoen moet word om dit tot volle funksionaliteit te herstel.”

Sheldon sê die opknapping van die Rooibaai-kaaie word in vennootskap met die private sektor in die groter Velddrif-gebied gedoen en die munisipaliteit is ewig dankbaar daarvoor.

“Werk het op die perseel begin en die gedetailleerde inligting rakende die tydsraamwerk van hierdie projek kan binne die private sektor gevind word. Die BM het ‘n toewysing van R1,3 miljoen vir die rehabilitasie van die Rooibaai-kaaie en -helling voorgestel, wat teen die einde van Februarie in die munisipale Aanpassingsbegroting oorweeg sal word.

“Indien toegestaan, sal dit ‘n bydrae van die munisipaliteit tot hierdie vennootskap wees.”

Die kaai was voor die herstelwerk in ‘n haglike toestand.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article