Solidariteit Helpende Hand het verlede Donderdag (12 Februarie) ‘n inligtingsessie by Huis Wittekruin aangebied om inwoners meer te vertel oor die organisasie se visie en werksaamhede.
Elma Vertue van Solidariteit Helpende Hand Saldanhabaai, Marietjie Roos (streeksbestuurder) en Lizelle de Jager (maatskaplike werker) het oggend gereël.
“Solidariteit Helpende Hand is ‘n welstandsorganisasie met ‘n visie om welstand volhoubaar te bevorder deur opleiding, opvoeding en maatskaplike ontwikkeling,” het Roos verduidelik.
Sy het bygevoeg dat die instelling se werksaamhede gegrond is op ‘n Christelike perspektief en beginsels, met erkenning van die individu binne sy gemeenskap. Roos het ook ‘n oorsig gegee van die ontstaan van die organisasie, wat as deel van Solidariteit begin het.
Volgens haar het die organisasie sy oorsprong in ‘n helpmekaar-beweging waar drie weduwees, ná die afsterwe van hul mans, lappoppe gemaak en verkoop het om ‘n inkomste te genereer.
Die poppe het gou gewild geraak en meer vroue en dogters uit die gemeenskap het betrokke geraak. Die groeiende betrokkenheid het uiteindelik gelei tot die amptelike stigting van Helpende Hand in 1949.
Die organisasie fokus hoofsaaklik op kinders, gesinne, ouer persone en persone met gestremdhede.
“Ons wil die stem wees van hulp en bemoediging waar daar nie ‘n stem is nie,” het Roos gesê.
Sy het die belangrike rol beklemtoon wat ouer mense in gemeenskappe kan speel, veral as vrywilligers.
Volgens haar is daar kinders uit ge- broke huisgesinne wat sekere praktiese vaardighede nooit aanleer nie, soos om klere te herstel of basiese huishoudelike take te verrig, vaardighede wat ouer persone aan hulle kan oordra.
Die uitruil van kennis werk egter in twee rigtings. Jonger mense help weer ouer persone om moderne tegnologie beter te benut en hul selfone optimaal te gebruik.
Só word gemeenskappe deur wedersydse ondersteuning versterk. Tans is meer as 2 000 vrywilligers landwyd by Solidariteit Helpende Hand betrokke.
Om deel van die organisasie te wees, word ‘n minimale maandelikse fooi gehef, maar bejaardes word as ere-ondersteuners erken en kan gratis aansluit.
Inwoners van Huis Wittekruin is op die geleentheid bedank vir hul waardevolle bydrae deur hul breiwerk. ‘n Groep dames het prosteses gebrei wat geskenk is aan die St. Helena Sandveld Hospice vir vroue wat ‘n mastektomie ondergaan het.
De Jager het op haar beurt ‘n suksesverhaal gedeel van ‘n seun wat onder moeilike omstandighede grootgeword het. Die seun se ouers was werkloos en alkoholmisbruik en mishandeling was deel van sy daaglikse lewe.
Hy het elke middag in ‘n hondehok skuiling gesoek om sy huiswerk te doen. Hy het nooit skool gemis nie en onderwysers was onbewus van sy huislike situasie.
Nadat Solidariteit Helpende Hand van sy omstandighede bewus geraak het, is hulp verleen en hy het later ‘n rentevrye studielening ontvang. Vandag is hy ‘n suksesvolle shef in Dubai. Ná die afbetaling van sy studielening het hy voortgegaan om sy maandelikse paaiement as donasie te betaal om ander in soortgelyke omstandighede te help.
Die oggend is afgesluit deur Karin Delport, Huis Wittekruin se bestuurder, wat inwoners aangemoedig het om die klein dinge in die lewe te waardeer en veral die Here se genade raak te sien, soos dit dikwels deur mense in die gemeenskap sigbaar word. Die inwoners is daarna met koek en tee bederf.






