Hanlie Bell is die afgelope 30 jaar ‘n bekende en geliefde gesig in die wêreld van kleuteronderwys aan die Weskus. Met haar passie vir jonger kinders, haar warm persoonlikheid en haar toewyding aan opvoeding, het sy deur die jare ‘n blywende indruk op honderde kinders en hul families gemaak.
Hanlie het in Kimberley grootgeword en haar onderwysstudies aan die onderwyskollege in Wellington voltooi.
Haar eerste onderwyspos was as Sub-A-onderwyseres (vandag se graad 1) by die Laerskool Bastion in Brackenfell.
Sy en haar gesin het in 1996 na Vredenburg verhuis, waar sy ‘n Graad R-pos by Weskusnessie-kleuterskool aanvaar het. Ná sewe jaar in die klaskamer het sy na die administratiewe kantoor verskuif, maar haar liefde vir die skool en kinders en het nooit verander nie.
“Ek geniet my werk vreeslik baie. Die kinders se laggies en drukkies maak dat ek elke dag lus het om te kom werk,” vertel sy.
Wanneer sy terugdink aan drie dekades in die beroep, is dit veral die vreugdevolle oomblikke wat uitstaan. Hoewel daar uitdagings was, sê sy die positiewe herinneringe oortref verreweg die negatiewe. “ ’n Seuntjie het eendag van sy mangeloperasie vertel en gesê: ‘Juffrou, toe hulle my mangels uitgehaal het, het hulle sommer my longe ook uitgehaal.’ Sulke snaakse goed bly ‘n mens altyd by,” lag sy.
Groot veranderings vir kleuters
Volgens Hanlie het kleuteronderwys die afgelope 30 jaar ingrypend veran- der. Waar kleuterskole hoofsaaklik ‘n versorgingsrol vervul het terwyl ouers gewerk het, fokus dit vandag veel sterker op geletterdheid, syfervaardigheid, sosiale en emosionele ontwikkeling, speelgebaseerde leer en skoolgereedheid.
“Opvoeders ontvang ook meer formele opleiding as vroeër. Die digitale wêreld waarin kinders vandag grootword, bring nuwe uitdagings, maar ons het geleer om daarby aan te pas,” sê sy.
Vir Hanlie gaan opvoeding egter oor veel meer as akademiese voorbereiding. Sy hoop elke kind wat by Weskusnessie se deure instap, sal belangrike waardes op hul lewensreis saamneem.
“Ek hoop hulle sal vriendelikheid, respek en eerlikheid koester, verantwoordelikheid vir hul dade aanvaar en met deernis teenoor ander optree. Ek wil hê hulle moet in hulself glo, dankbaar wees, nooit opgee nie en die moed hê om die regte ding te doen, selfs wanneer dit moeilik is.”
Bo alles hoop sy elke kind sal weet hulle is waardevol en kan ‘n positiewe verskil in die wêreld maak. Een van die grootste belonings van haar loopbaan is om die langtermyn-impak van haar werk te sien.
“Dit vul my hart met trots en dankbaarheid om te besef dat jy ‘n klein rol gespeel het in die vorming van mense wat nou ander beïnvloed, Dit is ongelooflik spesiaal. Van die kinders wat by Weskusnessie was, is vandag self ouers hier.”
Vir Hanlie is 30 jaar in kleuteronderwys ‘n mylpaal en ‘n getuienis van ‘n lewe gewy aan die vorming van jong harte en gedagtes, een laggie, drukkie en lewensles op ‘n slag.





