Joshlin Smith (7) met los hare soos op die dag van haar verdwyning.


Spoorloos. Die sewejarige Joshlin Smith van die Middelpos- informele nedersetting by Saldanha het so geheimsinnig verdwyn dat nie eens die polisie se snuffelhond haar reuk om die hokkie langs ’n rommelbestrooide stroompie kon opspoor nie.

Die tenger, groenoog graadeenleerder van die Diazville Primêre Skool het Maandag 19 Februarie verdwyn, en haar ma, Kelly Smith (33), het haar nog dieselfde aand by die Saldanha-polisiekantoor as vermis gaan aangee.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het ’n buurman Joshlin Maandag om 19:00 die laaste keer gesien waar sy naby die hokkie gedwaal het. Sy woon daar saam met haar ma en dié se kêrel, ene Boeta, en haar negejarige boetie en driejarige sussie.

Die ware toedrag van sake oor Joshlin se verdwyning kom stukkie vir stukkie vorendag namate die polisieondersoek vorder, maar weens die sensitiewe aard van die saak kan al die inligting nog nie bekend gemaak word nie.

Polisielede besig om die gemeenskap te vra om ’n bietjie verder van die hokkie waarin Joshlin en haar gesin woon, te staan.Foto: Alida Buckle

Die hokkie wat ’n tree van ’n rommelbestrooide stroompie af staan.Foto: Alida Buckle

Volgens Helfrich is Joshlin vroeër die dag, omstreeks 14:00, saam met ’n onbekende seun voor die Diazville-kliniek gesien stap. Presies wie die seun is, kon nog nie vasgestel word nie.

Die presiese besonderhede oor hoe die betrokke Maandag vir Joshlin verloop het, is die spil waarom die ondersoek nou draai.

Talle bespiegelinge en verskeie weergawes is al opgevolg.

’n Groot groep gemeenskapslede het Dinsdag saam met die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), sigbare polisiëring en rampbestuurpersoneel na die kind help soek. Mense is in kleiner groepies verdeel en groot dele van Middelpos is gefynkam – sonder enige sukses.

Al is van Joshlin se klere vir ’n polisiehond gegee om aan te snuffel, kon die hond glad nie om die hokkie ’n spoor kry om te volg nie.

Terwyl Kelly en Boeta in die hokkie ondervra is, het die gemeenskap tot teenaan die hokkie saamgedrom voordat die polisie hulle beveel het om verder te staan.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit se hommeltuigspan het deurentyd gereed gestaan om hul hommeltuig uit te stuur, maar Dinsdag teen sonsondergang was daar nog te min inligting om dit doeltreffend te gebruik.

Die soektog is laat dié aand uitgestel en Woensdagoggend hervat, maar sonder om enige leidrade op te lewer.

Kelly Smith (33) wie se kind vermis word, net buite die hokkie in Middelpos.Foto: Alida Buckle

Lede van die Vredenburg-FCS het onverpoosd met hul ondersoek voortgegaan en teen druktyd was hulle nog besig om inligting, wat tydens ondervraging by Kelly en Boeta verkry is, op te volg.

Die aanvanklike inligting was dat Joshlin Maandag in Boeta se sorg gelaat is “aangesien sy nie goed gevoel het nie”. Sy is dus nie dié dag skool toe nie.

Daar is aanvanklik berig dat Kelly van die werk af gekom het toe sy Joshlin nie kon opspoor nie, maar ander weergawes word ook ondersoek.

Ten tyde van Joshlin se verdwyning het sy ’n ligblou T-hemp en ’n ligblou denimkortbroek gedra.

Kelly het aan Weslander gesê sy het onmiddellik onraad vermoed toe sy by die huis kom en Joshlin nie uitkom toe sy roep nie.

Joshlin is glo baie lief vir kos en altyd eerste in die ry vir aandete, maar Maandagaand was sy skoonveld.

Omstanders het gesê Joshlin is ’n lieflike, effens teruggetrokke kind en sal nie sommer saam met ’n vreemdeling iewers heen gaan nie.

Die gesin het twee jaar gelede van Diazville na Middelpos verhuis.. Enigiemand met inligting oor waar Joshlin haar bevind, word versoek om die ondersoekbeampte, AO Meyer Millstein van die Vredenburg-FCS, by 079 879 8588 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article