Joslin Smith (7) met los hare soos op die dag van haar verdwyning.


Spoorloos. Die sewejarige Joshlin Smith van die Middelpos- informele nedersetting by Saldanha het so geheimsinnig verdwyn dat nie eens die polisiesnuffelhond haar reuk om die hokkie langs die rommelbestrooide stroompie kon kry nie.

Die tenger, groenoog graadeenleerder van die Diazville Primêre Skool het Maandag 19 Februarie weggeraak, en haar ma, Kelly Smith (33), het haar nog dieselfde aand by die Saldanha-polisiestasie as vermis gaan aangee.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het ’n buurman Joshlin Maandagaand om 19:00 die laaste keer gesien waar sy naby die hokkie gedwaal het. Sy bly daar saam met haar ma en dié se kêrel, ene Boeta, en haar negejarige boetie en driejarige sussie.

Die ware toedrag van sake rondom Joshlin se verdwyning kom stuk-vir-stuk vorendag soos wat die polisieondersoek vorder, maar weens die sensitiewe aard van die saak, kan alle inligting nog nie bekend gemaak word nie.

Volgens Helfrich is Joshlin vroeër die dag, omstreeks 14:00, saam met ’n onbekende seun voor die Diazville-kliniek sien stap. Presies wie die seun is, kon nog nie vasgestel word nie.

Die presiese besonderhede oor hoe die betrokke Maandag in Joshlin se huishouding verloop het, is die spil waarom die ondersoek nou draai. Daar is vele bespiegelinge en verskeie weergawes wat al opgevolg is.

’n Groot groep gemeenskapslede het Dinsdag saam met die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), sigbare polisiëring en rampbestuurpersoneel help soek na die kind. Daar is in kleiner groepies verdeel en groot dele van Middelpos gefynkam, sonder enige sukses.

Al is daar van Joshlin se klere vir ’n polisiehond gegee om aan te snuffel, kon die hond glad nie om die hokkie ’n spoor kry om te volg nie.

Terwyl Kelly en Boeta in die hokkie ondervra is, het die gemeenskap tot teenaan die hokkie saamgedrom voordat die polisie hulle beveel het om verder te staan.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit se hommeltuigspan het deurentyd gereedgestaan om hul hommeltuig uit te stuur, maar Dinsdag teen sonsondergang was daar nog te min inligting om dit effektief in te span.

Die soektog is laat dié aand uitgestel en Woensdagoggend hervat, maar sonder om enige leidrade op te lewer.

Lede van die Vredenburg FCS het onverspoosd met hul ondersoek voortgegaan en teen druktyd was hulle nog besig om inligting, wat tydens ondervraging by Kelly en Boeta verkry is, op te volg.

Die aanvanklike inligting was dat Joshlin Maandag in Boeta se sorg gelaat is “aangesien sy nie goed gevoel het nie”. Sy is dus nie skool toe dié dag nie.

Daar is aanvanklik berig dat Kelly van die werk af gekom het toe sy nie vir Joshlin kon opspoor nie, maar ander weergawes word ook ondersoek.

Ten tyde van Joshlin se verdwyning het sy ’n ligblou T-hemp en ’n ligblou denimbroek gedra.

Kelly het aan Weslander gesê dat sy onmiddellik onraad vermoed het toe sy by die huis kom en Joshlin kom nie toe sy roep nie. Joshlin is glo baie lief vir kos en altyd eerste in die ry vir aandete, maar Maandagaand was sy skoonveld.

Omstanders het gesê dat Joshlin ’n lieflike, effens teruggetrokke kind is, wat nie sommer saam met ’n vreemdeling iewers heen sal gaan nie.

Die gesin het twee jaar gelede vanuit Diazville na Middelpos verhuis.

Enigiemand met inligting oor waar Joshlin haar bevind, word versoek om die ondersoekbeampte, AO Meyer Millstein van Vredenburg FCS, by 079 879 8588 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article