Die daaglikse nuusverslae oor noodlottige padongelukke dwing ‘n mens om ‘n waarneming te deel oor die bestuursgewoontes van sommiges in hierdie kontrei van die Weskus, maar ook elders. Die “sommiges” vermeerder skynbaar, na waarneming, by die dag en – bygesê – met geen onderskeid tussen geslagte nie!

Sou ‘n mens tussen die verskillende dorpe van hierdie kontrei per voertuig reis, is daar die ontstellende gewoonte van sommige voertuigbestuurders om van agter tot byna in jou voertuig se bagasiebak af te pyl met die klaarblyklike verwagting dat ‘n mens op hul bevel oor die geel streep op die skouer van die pad moet padgee net sodat hulle in die aansig van aankomende verkeer kan verby steek. Doen ‘n mens dit nie, of neem jy te lank na hul sin, wys diesulkes handtekens wat eie is aan ‘n gebrekkige vlak van opvoeding.

Nêrens, sover ek weet, is daar in die reëlboek die verpligting om op die skouer van die pad te ry nie (hoewel sommige sal sê dis ‘n “hoflikheidsgebaar”, en dit kan so wees); die reëlboek sê wel dat dit die voertuigbestuurder se verantwoordelikheid is om te verseker dat dit veilig is voordat ‘n ander voertuig verbygesteek word.

Hierdie soort optrede kom neer op roekelose bestuur, en is bydraend tot moontlik noodlottige padongelukke. ‘n Mens sou hoop dat diegene wat hulle so maklik aan dié soort roekelose optrede skuldig maak, net weer daaroor dink en hul weë sal verander.

John Lyners,

St. Helenabaai

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article