’n Spaanse burger, David Navarro Roman (41), is op onlangs in die Vredendal-streekhof skuldig bevind aan die onwettige besit en invoer van reptiele van die Noord-Kaap na die Wes-Kaap.
Die bedreigde reptiele sluit 22 pantsergordel-akkedisse (Ouroborus cataphractus) en een gespikkelde dwergskilpad (Chersobius signatus) in.

Roman is op drie aanklagte skuldig bevind. Twee van die aanklagte val onder die Wes-Kaapse Ordonnansie 19 van 1974 vir besit en invoer van beskermde wilde diere sonder permitte, en een aanklag is ingevolge die Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad 121 van 1998.
Hy is vir elke aanklag tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar, en hy is verder beveel om ’n boete van R500 000 te betaal.
Die gekonfiskeerde diere is aan CapeNature toegeken en in ’n geskikte fasiliteit geplaas waar hulle behoorlik versorg kan word.
Lede van CapeNature het saam met die polsie Roman op 29 November 2025 vasgekeer waar hy by ’n hotel in die Vredendal-gebied oornag het.
Dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature, het sy kommer oor die toename in onwettige versameling van hierdie reptiele uitgespreek:
“Hierdie spesie word bedreig deur wye, ongereguleerde en onvolhoubare benutting van natuurlike populasies. Die habitat van die oorblywende populasies moet beskerm word om verdere uitbuiting te voorkom, wat die spesie waarskynlik tot uitsterwing kan dryf. Met die groot, oop natuurlike ruimtes in die provinsie is ons steeds afhanklik van burgerlike waaksaamheid en van ons vele vennootinstansies binne en buite die regering om sulke wetstoepassingsuksesse te bou.”
Aangesien hierdie akkedisse in groepe leef, veroorsaak die verwydering van soms die algehele plaaslike populasie vir onwettige troeteldierhandel, gaan tot plaaslike uitwissing lei.
Die oorblywende natuurlike populasies is onwaarskynlik om te herstel weens die geringe verspreiding van ander populasies. Daarom is die spesie ingesluit op die Suid-Afrikaanse Nasionale Sensitiewe Spesielyste (http://nssl.sanbi.org.za/).
CapeNature doen ’n beroep op die publiek om enige inligting oor onwettige jag of versameling van wilde diere by hul naaste CapeNature-kantoor aan te meld of te bel by 087 087 9262.





You must be logged in to post a comment.