Puik speurwerk van Vredenburg polisie het gesorg dat gesteelde kamera en toerusting ter waarde van amper ‘n kwart miljoen rand vinnig gevind is.

Meedoënlose vervolging van huisbrekers wat vakansiegangers op Paternoster besteel het, het tot die suksesvolle terugbesorging van ‘n raakskerm-tablet en ‘n splinternuwe kamera en toerusting ter waarde van amper ‘n kwart miljoen rand gelei.

Sers. Geraldine Muggel en sers. Lindo Kuhle Makupula van die Vredenburg-polisie se speurtak het op Donderdag 12 Maart ‘n klagte ondersoek in Sonkwasstraat, Paternoster, waar huisbrekers die duur toerusting gedurende die nag kom steel het.

Die paartjie het doodgerus opgestaan en gaan stap en met die terugkomslag besef dat die I-pad en kamera met sak vol toerusting van bykans meer as R245 000 deur die nag gesteel is. Hulle het glo nie die vakansiewoning behoorlik gesluit nie.

Omstreeks 11:00 dié oggend het die gesteelde I-pad ‘n sein begin uitstuur na die eienaar. Hy het die inligting aan die polisie deurgegee waarop sers. Brandall Cananie van die Weskus-blitspatrollie dit opgevolg het. Sy soektog het hom tot by ‘n adres in Soutrivier gebring, waar die I-pad by ‘n verdagte gekry is.

Intussen het die polisiebeamptes uitgevind dat die drie verdagtes in ‘n silwer Peugeot rondry. Die polisielede het Vrydagmiddag na kringtelevisie-materiaal by ‘n vulstasie in Soutrivier gaan kyk en die motor se registrasienommer gesien. Dit is deurgegee op die polisie se netwerk as verdag en later vasgetrek by die kruising na Atlantis. Daar is 20 mandrax-tablette en kontant by die insittendes gekry en drie mans is in hegtenis geneem.

Die kamera en toerusting is met behulp van sers. Elvin Koopman van die Langebaan-polisie gekry. Hy het aangebied om die twee vrouesersante, Muggel en Makupula, Kaap toe te vergesel om die kamerasak met verskeie duur lense en ander toerusting opspoor. Die polisie het die sein gevolg wat ‘n versteekte verklikker in die kamerasak uitgestuur het. Dit het hulle tot by die woonplek waar die sak was, gelei. Dit is onbeskadig teruggevind.

Een beskuldigde het reeds in die Atlantis-landdroshof verskyn. Daar is uitgevind dat hy ‘n rits vorige veroordelings teen hom het.

Intussen het een van die drie beskuldigdes teen die ander gedraai en getuig hy nou teen hulle. Die derde beskuldigde het Dinsdag 17 Maart in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder van die Vredenburg-polisie, het gesê sy is uiters trots op die speurders se deursettingsvermoë en vasbyt. “Dit is uitstekende werk!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article