Karla Swart, ‘n dierefisioterapeut van Saldanha.

Met ‘n hartklop en passie vir diere al van jongs af, het Karla Swart haar hart gevolg en haar droomberoep gekies. Dié 24-jarige van Saldanha is tans ‘n dierefisioterapeut en vertel dat alles met haar liefde vir perde begin het.

Sy het op sesjarige ouderdom begin perdry en nooit opgehou nie. “Ek was daardie kind wat altyd probeer het om elke klein voëltjie of diertjie wat seergekry het, te dokter. Ek weet nie hoeveel van hulle suksesvol gerehabiliteer is nie, maar ek was altyd reg om te help – met baie trane as dit nie goed afloop nie. Terwyl my maats dokter-dokter of skool-skool wou speel, het ek net perdjie-perdjie gespeel. Ek het selfs, toe ek maar vyf jaar oud was, een aand gebid: Liewe Jesus, dankie dat ek ‘n dogtertjie is, maar eintlik wou ek ‘n perd gewees het. My ma het nie heeltemal gedink dit was snaaks nie, maar ek het dit baie ernstig bedoel,” vertel sy.

Wanneer dit kom by die werk as dierefisioterapeut meen Karla mense is geneig om te dink dat ‘n dierefisioterapeut net heeldag diere masseer en met hulle speel, maar dit kon nie verder van die waarheid wees nie.

“Dierefisioterapie is ‘n gespesialiseerde veld wat fokus op die herstel, instandhouding en optimalisering van beweging en funksie by diere. As bewegingspesialiste identifiseer, behandel en voorkom ons muskuloskeletale probleme, beserings en selfs post-chirurgiese komplikasies.

“Dit doen ons deur bewese, nie-indringende tegnieke soos terapeutiese oefeninge, handterapie, lasertegnologie, hidroterapie en meer. Dierefisioterapie vervul ‘n sleutelrol in ‘n dier se algehele welstand – of dit nou is om herstel ná ‘n besering of operasie te bevorder, om sportprestasies te verbeter of bloot om pyn te verlig en mobiliteit by ouer diere te behou. Dis ‘n beroep wat die balans tussen beweging, gemak en lewensgehalte probeer herstel.”

Karla het in haar hoërskoolloopbaan by ‘n plaaslike veearts gaan “job shadow”; die interaksie met die diere en hul eienaars het haar opgewonde gemaak. “Maar ek het vinnig agtergekom dat die operasie-aspek van die werk vir my net té veel druk was en ek het begin wonder of daar nie dalk ‘n ander pad is nie. In 2016 het ek begin om meer mededingend aan perdry deel te neem. Dit vereis soos in enige ander sport fyn beplanning en liggaamlike versorging – nie net vir die ruiter nie, maar ook vir die perd. Ons kompetisieperde was gereeld onder fisioterapiebehandeling om hulle in topvorm te hou. En dit was presies hier waar my oë oopgegaan het: Ek het besef dit is ‘n beroep wat my in staat sal stel om voltyds met diere te werk – spesifiek met hul herstel en welstand – maar sonder om deur die menslikefisioterapiepad te gaan. Ek was onmiddellik geïnspireer.”

Karla het haar studie in 2019 by Equine-Librium College in Plettenbergbaai begin, haar kwalifikasie in 2023 ontvang en in Maart 2024 haar eie mobiele praktyk, Soft Hands Animal Physiotherapy, begin.

Sy meen dierefisioterapie is op die oomblik ‘n beroep wat grotendeels deur vroue gedryf word. “Ek glo dis omdat vroue ‘n unieke aanvoeling het – ons sien nie net wat voor ons staan nie, maar ook wat ‘onder die oppervlak’ skuil. Hierdie sensitiwiteit, saam met ons empatie, maak van ons natuurlike genesers en waarnemers – twee eienskappe wat absoluut noodsaaklik is in hierdie werk.

“Aan elke vrou daar buite wat oorweeg om dié pad te stap, moenie twyfel nie. As jy daardie passie voel brand, volg dit. Ons wêreld het meer vroue nodig wat sag, slim en sterk is – in die veld, tussen die diere en met albei voete vas geplant in hul roeping.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article