Facebook-bedrog is aan die toeneem en die plaaslike polisie doen weer eens ’n beroep op lesers om asseblief bedag te wees op swendelaars, wat dikwels soos ’n wolf in skaapsklere vertroue inboesem.

Só is ’n 33-jarige man van Laaiplek tussen 5 Augustus 2023 en 9 Mei vanjaar uit R11 500 bedrieg.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het hy ’n motor probeer koop wat die vermeende bedrieër op Facebook adverteer het.

Die swendelaar het op ’n deposito én ’n “eerste paaiement” aangedring, wat die klaer toe oorbetaal het.

Die klaer wag steeds vir dié voertuig.

Die Laaiplek-polisie ondersoek ’n klagte van bedrog, en die vermeende oortreder kan moontlik met nóg soortgelyke sake verbind word.

Helfrich vra die publiek om klagtes aan te meld as bedrieërs hulle ingeloop het.

Sy benadruk dat géén geld oorbetaal moet word voordat die item besigtig is én aan die koper oorhandig kan word nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 June 2026
    Weslander E-Edition – 18 June 2026

Gift this article