So lyk van die tonele waarop CARE St Helena Bay afkom.

Letitia Van Zyl-Schultz

“Honde is nie net diere nie, hulle is liefde, terapie en ‘n mens se beste vriend.”

Só vertel Margie van Rooyen, stigter van CARE St. Helenabaai, wat glo dat ‘n hond selfs ‘n mens se sielsgenoot kan wees.

“As jy die woord dog omdraai, spel dit God. Ek glo Hy het honde gemaak met die doel om die mens se beste vriend te wees,” sê sy.

Ná dekades in die eiendomsbedryf het Van Rooyen en haar man in St Helenabaai afgetree. In 2023 het sy CARE St Helena Bay, ‘n nie-winsgewende organisasie, gestig met die visie om mishandelde, verwaarloosde en verlate diere weer hoop, sorg en liefde te gee.

CARE, wat vir Community, Animal, Rescue and Education staan, word gedryf deur ‘n diep passie vir die beskerming en genesing van diere.

“Ons glo elke dier verdien ‘n stem, en elke eienaar verdien ‘n helpende hand. Ons werk onvermoeid om ‘n verskil te maak, een poot op ‘n slag, en sal nie moed opgee voor elke dier in nood toegang het tot die sorg en deernis wat hy verdien nie.”

Vir Van Rooyen en haar span, wat uitsluitlik uit vrywilligers bestaan, is dit nooit te vroeg in die oggend of te laat in die aand om te help nie. Ses dae per week, van 08:00 tot 18:00, is hulle in die gemeenskap aan die werk.

“Ons loop daagliks deur woonbuurte, kyk in erwe en identifiseer diere wat hulp nodig het. Ons liefdadigheidswinkel ­genereer die meeste van ons geld, wat aangewend word vir kos, mediese sorg en sterilisasies.”

Die span werk voortdurend om die lyding van siek en beseerde diere, veral in arm gemeenskappe, te verlig. Hul werk sluit sterilisasies, inentings en parasietbeheer in.

CARE werk ook nou saam met plaaslike owerhede, die Dierebeskermingsvereniging en veeartse aan die Weskus.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir almal wat ons ondersteun. Glenryck help gereeld met pallette wat ons omskep in ­skuilings, terwyl Wespunt-drukkers ons met drukwerk bystaan.”

Van Rooyen vertel met trots van die 72-jarige Tannie Sarah Adoons, wat steeds energiek en toegewyd haar gemeenskap en die dierekinders dien.

rekord gehou

CARE se omgee strek verder as net honde. Die organisasie het reeds talle katte laat steri-

liseer, en selfs ‘n hoender en ‘n haas gehelp om nuwe huise te vind. Daarbenewens het hulle sowat agt gesinne, wat alles in brande verloor het, ondersteun om weer hul wonings op te bou.

Volgens Van Rooyen word deeglike rekords van elke dier of uitreik gehou. Enige mishandeling word aangemeld.

“Mense wat diere mishandel, moet weet daar is gevolge.”

Sy sê baie mense beskou honde bloot as sekuriteit of as deel van die “vee op die werf”. Daarom fokus CARE nie net op redding en hervestiging nie, maar ook op opvoeding, veral van kinders en gesinne.

Waar hulp verleen word, word ‘n CARE-ooreenkoms aangegaan, streng inspeksies volg en gereelde opvolgwerk word gedoen om seker te maak diere word behoorlik versorg.

Een van CARE se belang- rikste projekte is die Young Stars Pet Care Programme, ‘n interaktiewe opvoedkundige inisiatief wat by skole en in gemeenskappe aangebied word.

Die program leer jong troe- teldiereienaars verantwoordelike diereversorging deur prettige klasse, praktiese aktiwiteite en vaardighede soos opleiding, gesondheidsorg, sterilisasiebewustheid en algemene dierewelstand.

Daar word ook gereeld Bad-en-Dip-dae aangebied, waar kinders geleer word hoe om honde behoorlik te bad en teen parasiete te behandel.

“Opvoeding is uiters ­belang- rik. Ons doen tot vier steri-

lisasies per week en kry soms tot 20 hondjies per week wat oorgegee word,” sê Van Rooyen.

Die verhale wat CARE daagliks teëkom, is dikwels hartverskeurend.

weggehardloop

Van Rooyen vertel van uitgeputte wyfiehonde wie se liggame onder voortdurende dragtigheid en geboortes gebuk gaan; honde wat sonder skuiling in wind en reën gelaat word; die uitgeteerde hondjie wat naby die visvanggebied gevind is, bang, maer en met ‘n tou wat in sy nek ingegroei het.

“Hy het nie meer vir mense gekyk nie, net weggehardloop.”

Sy vertel ook van ‘n hond wie se stert wreed afgesny is, en ‘n Jack Russell-hondjie wat in ‘n vuur gegooi is.

Maar tussen die pyn en wreedheid is daar ook verhale van herstel en hoop. Honde wat die CARE-bussie herken wanneer dit voor ‘n huis stilhou, omdat hulle weet kos, veiligheid en baie liefde wag.

“Die hartseer is diep, maar vir die meeste hartseer verhale is daar gelukkiger eindes, en dit is wat my laat aanhou.”

Volgens Van Rooyen is dit belangrik om verder as die verwaarlosing te kyk.”Daar is altyd ‘n groter prentjie. Nadat ‘n hond gehelp is en die gesin geleer is hoe om hom te versorg, doen ons gereelde inspeksies. Honde herken jou, hulle kyk in jou oë en weet jy gee liefde. Wanneer ek by huise stop en die honde spring teen my op, en ek sien die liefde in hulle oë, dan weet ek, alles is die moeite werd.”

CARE St Helena Bay beplan nou om na Vredenburg uit te brei en werk aan ‘n sterilisa- sieveldtog van sowat R250 000 om 300 honde te steriliseer.

Van Rooyen se boodskap aan die gemeenskap is eenvoudig:

“Raak betrokke. Sluit by CARE aan en help ons op­­

hierdie reis van liefde, deernis en hoop. Saam maak ons ‘n verskil, een poot op ‘n slag.”

Kontak Care St Helena Bay by 064 528 2001 of besoek hul web-

tuiste om betrokke te raak.

Sarah Adoonis en Margie van Rooyen van CARE St. Helenabaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 21 May 2026
    Weslander E-Edition – 21 May 2026

Gift this article