Saldanhabaai-rugbyklub het die Sanlam-Boland-Top-12-beker vir die derde keer verower. Foto: David Rossouw

Die Saldanhabaai-rugbyklub het die geskiedenisboeke herskryf toe hy die eerste rugbyklub in Bolandrugby geword het wat die Sanlam-Boland-Top-12 ‘n derde keer verower het.

Saldanha het dit Saterdag reggekry deur Roses United van Wellington in ‘n epiese eindstryd met 31-29 te verslaan. Easton Arendse het die eerste drie vir Roses afgerond nadat hulle omtrent 11 losfases beheer het, voordat hy in die regterkantse hoek vir ‘n voorsprong van 5-0 oorgeduik het.

Hoewel Roses in die eerste 10 minute die pas aangegee het, het Saldanhabaai kalm gebly en by sy wedstrydplan gehou. Saldanha se kans het in die 15de minuut gekom toe hy ná goeie spel in Roses se 22 m-gebied ‘n losbal bemeester en vir Feghon-Leigh Snyders kon voer.

Hy het langs die linkerregoppaal afgerond vir Saldanhabaai se eerste drie, wat Craig van Rensburg verdoel het om die voortou met 7-5 te neem.
Goeie spel deur Roses se voorspelers by die afbreekpunte het Monray Jacobs van Saldanha ‘n bal laat aanslaan. Hulle was nou een speler kort weens ‘n geelkaart, maar steeds goed gevaar, wat tot Arendse se drie langs die pale gelei het.

Garth April se doelskop was in die kol net voor die lemoenbreek, wat hulle ‘n goeie platform met ‘n 12-7-voorsprong gegee het. Saldanhabaai het egter ‘n terugslag gekry toe Willmen Schreuder ‘n geelkaart ontvang het. Hy het ‘n Roses-speler gespeel sonder om sy arms te gebruik, en dit het die druk op Saldanhabaai verder verhoog.

Toe die eindfluitjie blaas, was die teleurstelling op Roses se gesigte groot, maar hulle het geweet dat hul beste nie goed genoeg was nie, want Saldanhabaai het hul kanse benut. Met die oorwinning van 31-29 het Saldanhabaai sekergemaak hy wen die Sanlam-Boland-Top-12 vir die derde keer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article