Vredenburgers en besoekers aan winkelsentrums moet waaksaam wees vir die jongste misdaad wat op dié dorp opduik.
Kol. Lindie Marx, Vredenburg-polisie- bevelvoerder, het op die afgelope Dinsdag (24 Februarie) se maandvergadering van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gewaarsku dat skelms nou luikrugmotors teiken. Hul modus operandi is om die deur na die bagasieruim oop te dwing en om dan die spaarwiel te steel. Daar was die afgelope maand drie soortgelyke voorvalle op die dorp naby winkels.
Misdaadvlakke op die dorp is meestal dieselfde. Die brandpunte bly Witteklip, Ongegund, George Kerridge en Louwville.
“Daar is egter nie ‘n spesifieke patroon met watter dae en watter tye misdade soos moord en poging tot moord gepleeg word nie.”
Marx sê ook dat inbrake by sakepersele toegeneem het en dat daar een sakeroof by ‘n Somaliese winkel plaasgevind het.
Sy sê voorts drank en dwelms, veral oor naweke, bly die grootste oorsaak van aanrandings, huishoudelike geweld en die kwaadwillige beskadiging van eiendom. Die polisie se onverpoosde fokus op onwettige drank en dwelms het gelei tot ‘n toename van 68% in inhegtenisnemings in dié verband. Daar is ook vyf motorbestuurders vir dronkbestuur in hegtenis geneem.
Joey Pieters, koördineerder van die Saldanhabaai-veiligheidinisiatief (SBSI), sê dat munisipale wetstoepassingsbeamptes die afgelope maand op dromkrappers en karoppassers gefokus het, om toe te sien dat hulle munisipale verordeninge nakom. Hulle het ook boetes uitgeskryf vir mense wat openbare vervoer sonder die nodige permitte bedryf of oorlaai was.
Freddie Smook, GPF-voorsitter, het wetstoepassers bedank vir hul aandeel om Breë-straat se karoppasser-probleem op te los.
Die klein veldbrande wat die afgelope tyd sporadies in die dorpsgebied gestig word, eis hulpbronne en tyd en bly ‘n kopseer.
◘ Die GPF wil die polisiekantoor meer gebruikersvriendelik maak. Stuur ‘n WhatsApp na 079 930 6719 as jy kan help.




