Weslie Adams, wat Saterdag 25 Julie agtsteman gespeel het, hardloop met die bal in ‘n Grootuitdaagbekerwedstryd teen St. Helenabaai. Foto: Bernadette Louw

Met nog net ‘n paar wedstryde oor in die Weskus-Grootuitdaagbeker-kompetisie stuur Weskus-rugby beslis op ‘n drama af.

Die liga begin Saterdag (2 Julie) met die opbou na ‘n onvermydelike klimaks en die kompetisie raak al hoe meer opwindend.

Hierdie rugbyverhaal is op ‘n mespunt. Terwyl die laaste wedstryde nader kom, neem die spanning toe – elke wen, elke telling, elke flater kan die uitkoms laat kantel. Die vraag bly: Wie gaan die twee topspanne wees?

Die genoemde spanne kan die volgende vier weke die uitslae alles verander en die Grootuitdaag se finale hoofstukke omskryf:

• Saldanhabaai is die voorloper en het die afgelope naweek seker gemaak dat hy in die eerste plek bly deur St. Helenabaai met 37-36 te klop. Komende Saterdag sal hy die wedstryd tussen St. Helenabaai en Vredenburg met valkoë volg, want sy volgende teenstander is Vredenburg op hul tuisveld op Saterdag 9 Augustus. Sy voorlaaste wedstryd is 16 Augustus teen Goedverwacht. Alle oë sal egter op sy laaste wedstryd teen Young Hearts op Saterdag 23 Augustus op hul veld wees. Sou Saldanhabaai al sy wedstryde wen, kan hy moontlik op 82 punte eindig.

• Velddrif, wat in die tweede plek staan, het twee wedstryde oor. Hulle kan op 75 punte eindig as hulle ‘n voltal bonuspunte kry deur Langebaan op Saterdag 2 Augustus tuis en Young Hearts op Saterdag 16 Augustus te klop.

• Vredenburg kan op 80 punte eindig as hy sy oorblywende drie wedstryde wen.

• St. Helenabaai is ook nog in die wedloop vir ‘n topplek op die punteleer. Met drie wedstryde uitstaande teen Vredenburg, Goedverwacht op 9 Augustus (weg) en Piketberg op Saterdag 16 Augustus (tuis) kan hulle ook kwalifiseer.

• Met Young Hearts as die buiteperd teen Steenberg Cove (Saterdag 2 Augustus, tuis), Langebaan (Saterdag 9 Augustus, weg), Velddrif (Saterdag 16 Augustus, tuis) en Saldanhabaai (Saterdag 23 Augustus, tuis) kan hulle die kaarte lelik deurmekaarkrap met ‘n buitekans om te kwalifiseer.

Uitslae van die afgelope naweek se wedstryde in die Weskus-streek lyk soos volg:

Goedverwacht 37-50 Hopefield; Piketberg 22-34 Young Hearts; Saldanhabaai 37-36 St. Helenabaai; Steenberg’s Cove 19-86 Velddrif; en Vredenburg 33-26 Paternoster.

Swartland: Darling 22-33 Abbotsdale; Good Hopes 39-29 Riebeeck United; Never Despairs 27-30 Mamre; Saron 39-29 Moorreesburg; en Villagers Wittewater 35-35 Porterville.

Die manne van St. Helenabaai moet uithaal om Weslie Adams van Saldanha te stuit. Foto: Bernadette Louw

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article