Agter staan Emily Kersouw, Jaylin Makamba, Christelle Jim, Jadue-Leigh Snyders en Dequin Donn. Voor: Camdynn Crow, Naledi Lehlehla, Maxine Minnaar, Kaylicia Pienaar en El- Deano Donn.

Diazville Primêr se skaakspan het op Saterdag 14 Februarie behoorlik die bord laat praat tydens die Weskus-skaaktoernooi-byeenkoms by die Laerskool Swartland in Malmesbury.

Tien leerders het deelgeneem en nege van hulle het deurgedring na die volgende ronde, ‘n prestasie wat die hele gemeenskap laat glimlag.

Die jong skaakspelers het beslis gewys dat skaak nie net oor pionne en lopers gaan nie, maar oor fokus, dissipline en slim strategie. Met die afrigting en ondersteuning van hul onderwysers en ouers het Diazville se kinders beslis die oog gevang en gewys dat hulle die talent het om die Weskus-span te haal.

Die eerste deel van die toernooi vind op 28 Februarie in Citrusdal plaas, terwyl die tweede deel op 7 Maart in Langebaan plaasvind.

Die Weskus-span wat die streek op ‘n breë vlak gaan verteenwoordig, sal dan gekies word na afloop van die finale byeenkoms in Langebaan.

Vir Diazville is dit ‘n trotse oomblik en die skool en gemeenskap kan trots voel op die jong skaakspelers wat hoop gee aan skaak en dit in die streek bevorder.

Die komende rondes beloof opwindend te wees, en met ‘n sterk Diazville- teenwoordigheid is dit duidelik dat hulle ‘n krag is waarmee rekening gehou sal moet word.

Volgens Jacques Basson, skaakafrigter, het die span van Diazville Primêr hulle baie goed van hul taak gekwyt en behoort baie goed te vaar in die tweede en derde deel wanneer die Weskusspan gekies gaan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article