Tot die bodem toe

In ‘n jaar wat oploop na ‘n munisipale verkiesing raak die lyn tussen lojaliteit en aanbidding haarfyn.

In politiek, nes in godsdiens, sien ‘n mens dit raak wanneer die tekens begin ophoop. Wanneer godsdienstige en politieke leiers se woorde nie meer bevraagteken mag word nie, die kerk of party se slagspreuke soos die stappe in ‘n erediens herhaal word, en die party of kerk se kleure soos ‘n uniform gedra word.

Hoe nader dit egter aan ‘n verkiesing kom, kan gesien word op foto’s wat vir plasing na Weslander gestuur word, die partykleure sluip al hoe meer in.

Dit was nog altyd so. Dan moet daar versigtig gewik en geweeg word. Partye dink allerhande “nuusgebeure” uit om hulself in die koerant te kry. Die nuuswaardigheid van ‘n foto bepaal egter of dit gebruik word.

Daar is politieke partye wat al hoe minder na ‘n politieke beweging lyk en al meer na iets wat antropoloë waarskynlik as ‘n kultus (cult) sou beskryf.

‘n Kultus is ‘n gemeenskap van “ware gelowiges”, oortuig dat hulle die enigstes is wat die “waarheid” sien. Hulle glo bo alle twyfel dat hul leier die een is wat die pad wys. So het Suid-Afrika al ‘n Errol Erzinger (1980’s en 1990’s), ‘n Timothy Omotoso (‘n Nigeriese televangelis met ‘n groot aanhang in SA) en ‘n Shepherd Bushiri gehad wat massas mense mislei het. Hulle deel sekere karaktertrekke met Adolf Hitler, Joseph Stalin, Kim Jong-un en Donald Trump internasionaal en plaaslik met kultusagtige politieke figure Jacob Zuma en Julius Malema.

‘n Kultusleier is in sy volgelinge se oë onfeilbaar. Hy word tot op die punt gerespekteer dat enige kritiek teen hom, deur volgelinge of buitestaanders, as verraad beskou word. Die leier se woord word die finale waarheid en hy mag nie teëgegaan word nie. As iemand vrae stel, word dit afgemaak as propaganda, vyandigheid of jaloesie. Volgelinge word aangehits om enige entiteit of individu wat so ‘n leier kritiseer op sosiale media te probeer “kanseleer”.

‘n Kultus word uitgeken aan sy sigbare simbole soos klere, kleure, slagspreuke en kentekens wat ‘n gevoel van identiteit en lojaliteit skep. Politieke bewegings doen presies dieselfde om hul partynaam uit te dra. Dit gaan later nie meer net oor beleid of idees nie, maar raak ‘n vorm van godsdiens of geloof.

‘n Klassieke kultus-tegniek is om ‘n duidelike vyand te skep: die buitewêreld verstaan nie die waarheid nie, dit is “ons teen húlle”. Dit word by volgelinge ingeprent dat hulle spesiaal is en iets sien wat ander nie sien nie.

‘n Mens dink hier aan Charles Manson wat absolute lojaliteit geëis en sy volgelinge psigologies gemanipuleer het. Hy het hulle geïsoleer van enige invloed van buite sodat hulle bereid was om sy opdragte (ook moord) uit te voer sonder om dit te bevraagteken.

Kultusse gebruik ook emosionele massabyeenkomste waar sang, toesprake en sekere rituele die skare opsweep om hulle van die kultus se sieninge te oortuig. Baie kultusse se belofte aan volgelinge is dat hulle die wêreld gaan verander, of red . . . of regmaak wat verkeerd is. Dat hulle die enigste pad na werklike verandering ken. Net so belowe politieke partye áltyd voor verkiesings dat hulle alles gaan verander, maar politieke leiers is nie profete nie. Politieke partye is nie kerke nie.

Ons demokrasie werk juis omdat kiesers vrae mag stel, hul twyfel mag uitspreek en leiers mag kritiseer. Die dag wanneer blinde lojaliteit oorvat, verval politiek in iets wat baie nader aan ‘n kultus as aan ‘n gesonde demokrasie is.

Enige kerkleier of politieke leier bly net ‘n mens en tree soms verkeerd op, maar dit is net in ‘n kultus waar die leier geen blaam dra nie, maar almal wat “anders” is die media, die opposisie, die establishment die blaam moet dra.

Maak seker jy hou jou nie op met meer as net ‘n verkiesingsveldtog om stemme te werf nie. As die verkiesing verby is, moet jy weer jou bure in die oë kan kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article