VREDENBURG – Op 31 Desember 1997 het iets besonders in die dorp gebeur: die Woelies Baba- en Speelgoedwinkel het sy deure geopen, en byna 29 jaar later is hierdie geliefde winkel steeds ‘n plek waar kinderherinneringe gemaak word, tweedegenerasie-kliënte hul kleinkinders bring, en eienaar Jomane Turner se liefde vir speel deur elke hoekie skyn.
Jomane se reis met Woelies het onverwags begin. As destydse joernalis by Weslander en ‘n nuwe ma het sy eendag die speelgoedwinkeltjie in die Hoofstraat binnegestap en op slag verlief geraak op dit wat sy daar gesien het. Toe die vorige eienaar gereed was om toe te maak, het Jomane ingestap en die besigheid oorgeneem. As gebore Weskusser met ‘n passie vir kinders, was dit ‘n natuurlike pas.
“Ek hou van speelgoed. Ek hou van dit wat speelgoed in die kind doen,” vertel Jomane. Vir haar gaan dit oor leer deur te speel – elke produk word persoonlik uitgekies met hierdie filosofie in gedagte.

‘n Nuwe tuiste in die hart van Vredenburg
Die winkel het onlangs verskuif van die Hoofstraat na die Weskus-sentrum, op die hoek van Langstraat en Skoolstraat. Die nuwe sentrale en veilige ligging bied volop parkering en verwelkom gesinne hartlik in ‘n ruimte waar elke produk ‘n storie vertel.
Kwaliteit en diens oor generasies
Kwaliteit staan by Woelies voorop. Elvinia Farao, Jomane se regterhand wat al jare by die winkel werk en self ma van drie kinders is, verduidelik dit so: “Die kwaliteit is baie goed. Dus koop jy een keer en jy koop iets ordentliks.”
Die winkel voorsien in elke fase van ‘n kind se lewe. Van die dag dat ‘n baba gebore word, kan ouers bottels, borspompe en doekprodukte vind. Daar is bekostigbare stootwaentjies, karstoele, loopringe, babasakke en beddegoed. Met die eerste skooldag is daar toutjies en rugsakkies. En soos kinders groei, groei die speelgoed saam met hulle, van speelgoed wat help om fyn motoriese vaardighede te bou tot verbeeldingryke speelstelle.

Baie van die produkte is plaaslik gemaak. Popklere word deur ‘n familiebedryf gemaak wat al jare lank kwaliteit lewer, en Jomane hou persoonlik toesig oor die kwaliteit van elke produk wat sy aankoop. Veiligheid word ook ernstig opgeneem, veral by items soos babakarretjies. Jomane kontroleer self dat wiele sterk genoeg is en dat produkte aan veiligheidsstandaarde voldoen.
Die winkel voer ook doopklere en opvoedkundige speelgoed in wat deur die Departement van Basiese Onderwys goedgekeur is, met materiaal in Engels, Afrikaans en Xhosa. Hierdie speelgoed dek temas en vakke wat kinders se leer en ontwikkeling ondersteun.
jomane turner vertel meer oor woelies:
Wat Woelies besonders maak, is die generasie-verbintenis. Jomane deel dat hulle nou al ‘n tweede generasie van klante bedien – mense wat as kinders by Woelies speelgoed gekoop het en nou hul eie kleinkinders vergesel. “Mense wat hier speelgoed gekoop het, kom nou met hul eie kinders terug,” sê Jomane oor die vreugde om vroeëre klante weer te sien.
Elvinia, wat ná die grootmaak van haar eie kinders na Woelies teruggekeer het, praat met entoesiasme oor haar werk: “Elke keer as jy hier instap, voel dit goed. As jy iemand iets wys en die persoon koop dit, maak dit ‘n positiewe verskil.”
Die winkel help ook met geskenklyste vir babas, sodat familie en vriende presies kan bydra wat ‘n nuwe ma nodig het. “Ons het klante wat altyd terugkom,” sê Elvinia. “As jy ‘n baba registreer, help ons jou met alles wat jy nodig het.” Swanger ma’s kom om vir hul babas voor te berei, en keer terug soos hul kinders groei. So ontstaan ‘n siklus van verbintenis wat deur jare strek.

Van Vredenburg na die wêreld
Danksy effektiewe sosiale media-bemarking deur Lorika Melck het Woelies se bereik landwyd gegroei. Die winkel genereer nou aandag regoor Suid-Afrika en stuur produkte per koerier landwyd. Daar was selfs navrae uit Kanada – bewys dat kwaliteit en persoonlike diens wêreldwyd waardeer word.
Vir Jomane is Woelies meer as net ‘n besigheid. Dit gaan oor liefde en betrokkenheid by klante, oor die bou van verhoudings wat oor generasies strek. “Woelies – waar harte warm raak” is nie net ‘n slagspreuk nie, maar ‘n belofte.
Vir gesinne in Vredenburg en die breër Weskus is Woelies ‘n plek waar gemeenskap en kindersorg saamkom. Of jy nou ‘n nuwe ouer is wat gehalte babaprodukte soek, ‘n grootouer wat die perfekte geskenk wil gee, of net iemand wat in die krag van spel glo, Woelies verwelkom jou met oop arms en bied byna 29 jaar se kundigheid.
Besoek Woelies by die Weskussentrum op die hoek van Skool- en Langstraat in Vredenburg of gaan loer op hul Facebook-blad.
Blaai gerus deur die fotogalery deur Lorika Melck:























You must be logged in to post a comment.