‘n Politieke party én ‘n bekende landbou organisasie eis ‘n onmiddellike ramptoestand om die huidige bek-en-klouseer-krisis in die land se veebedryf hok te slaan.
Goeie nuus vir die veeboere in die Wes-Kaap én Weskus is egter dat dié provinsie tans “skoon” van bek-en-klouseer is.
Volgens SP Tredoux, Agri Wes-Kaap se streeksbestuurder in die Weskus, is net een bevestigde geval van bek-en-klouseer tot dusver in die Wes-Kaap aangemeld.
“Dit het in die Gouda-distrik voorgekom. Die betrokke plaas is gou in kwarantyn geplaas en die siekte is suksesvol bekamp. Moontlike gevalle van die siekte is in die Velddrif- en Caledon omgewings ondersoek, maar toetse was gelukkig negatief.”

Volgens die Vryheidsfront Plus is dié drastiese optrede om ‘n ramptoestand af te kondig, noodsaaklik omdat ministeriële taakspanne se aanbevelings sedert 2016 nie gevolg is nie.
“Hierdie krisis het reeds vroeër gedreig, maar die ontplooiing daarvan het onder die huidige minister ontstaan. Dit sal ‘n onvergeeflike versuim wees as hy nie nou met die nodige dringendheid optree nie,” sê die party.
Die bekende landbouorganisasie Saai (Suidelike Afrika Agri-inisiatief) sê die suiwel-, rooivleis- en stoetveebedrywe is in ‘n krisis gedompel en boere het vertroue in die nasionale departement van landbou verloor.
“Die bek-en-klouseer is ‘n groter krisis as wat die land besef en moet as ‘n nasionale ramp verklaar word,” sê Saai.
Volgens dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se landbouwoordvoerder, was die siekte in 2016 slegs ‘n moontlike bedreiging, maar teen die einde van 2024 het dit reeds reuse-skade in dele van KZN en die Oos-Kaap aangerig.
“Weens ‘n volgehoue gebrek aan optrede het dit in Mei verlede jaar na van die land se grootste voerkrale versprei.
“ ’n Ramptoestand sal behels dat bykomende staatsgeld bestee moet word om die siekte te bekamp. Die kern van die probleem is die gebrek aan beskikbare entstowwe sowel as die prys daarvan, gekwalifiseerde mensekrag om dit toe te dien en doeltreffende beheer oor die beweging van diere,” sê dr. Boshoff.
Volgens Tredoux is dit belangrik dat boere hul bure onmiddellik in kennis stel indien bek-en-klouseer vermoed word.
“Die siekte is nie ‘n skande nie. Sit dit dadelik op die lappe. Wees oop en eerlik en voorkom sodoende die verspreiding daarvan. Ek hoop van harte ons kan die siekte uit die Wes-Kaap hou. Dit gaan ‘n uitdaging wees omdat dit elders in die land heeltemal buite beheer is.”
Intussen het John Steenhuisen, die Minister van Landbou, aangekondig dat ‘n noodtoestand nou wél oorweeg word om die krisis te bekamp. Hy benadruk dat die inenting van vee nie ‘n “towerstaf” is om die siekte uit te wis nie.
“Die departement het egter ‘n plan wat haalbaar is en ons het oorlog verklaar teen die siekte. Die departement beoog om bek-en-klouseer in 12 maande met 70% te verminder.”






You must be logged in to post a comment.