Sy hele lewe lank het Basson van Zyl ‘n liefde vir die natuur en die buitelewe gehad.
Dit is dié dat die Weskus-fotograaf tydens sy hoërskooljare vir die eerste keer met ‘n digitale kamera begin rondspeel het om die pragtige oomblikke wat die natuur bied, te probeer vasvang.
Van Zyl het in 2009 ‘n eenjaar-fotografiekursus by die Stellenbosch Academy of Graphic Design and Photography voltooi en dit is tydens daardie reis dat sy passie vir landskapfotografie ontwikkel het.
Hoewel Van Zyl voltyds werk en ‘n sake-eienaar is, vind hy steeds fotografie is ‘n stokperdjie om dit wat God geskep het vas te vang en sodoende met mense te deel.
Die voordeel en balans tussen die twee is dat die beste tyd vir landskapfotografie vroeg in die oggend is tydens sonop of laat in die middag tydens sononder.
“Dit laat my toe om dit deur ‘n groot gedeelte van die jaar ná werk te kan beoefen.”
Die feit is dat hy nooit in sy lewe dieselfde foto sal kan neem van enige landskap nie en dat elke sonsopkoms en sonsondergang uniek is. Dit is vir Van Zyl die ongelooflikste ervaring om te sien hoe lig tydens ‘n sonsopkoms of sonsondergang binne sekondes kan verander en asemrowende tonele skep.
“My gunsteling soort fotografie is lang-blootstelling-fotografie waar ek ge-bruik kan maak van bewegende elemente soos water, wolke of sterre om dromerige en kunsmatige beelde te skep. My inspirasie kom deur tyd in God se skepping, en ek volg ander landskapfotograwe op sosiale platforms soos Instagram en Facebook.”
Wanneer dit kom by uitdagings meen Van Zyl al doen hy deeglike beplanning, speel die natuur nie altyd saam nie en hy keer dikwels terug huis toe sonder goeie foto’s.
Met sy besonderse foto’s het hy ook die geleentheid gehad om al drie fotoportefeuljes in die tydskrif Weg te hê en ‘n Weg-voorblad, ‘n trotse oomblik as fotograaf.
Van Zyl meen een van die lesse wat hy te alle tye toepas in sy werk as fotograaf is om net daar te wees en geduld te beoefen. Sy eerlike raad vir opkomende fotograwe om sukses te behaal is om te oefen, oefen en nog te oefen.





