Azure-gimnastiekklub het tussen Vrydag 2 en Sondag 4 Oktober aan die Gymnastics South Africa National Championships in Pretoria deelgeneem.
Die klub het vier goue, vyf silwer en nege bronsmedaljes verower.
Die klub se 21 gimnaste het nie net hul talent op die nasionale verhoog ten toon gestel nie, maar ook bewys dat uitdagende omstandighede nie ‘n mens se drome hoef te ontspoor nie.
Bianca Coenraad, afrigter en stigter van die klub, sê ondanks ‘n gebrek aan toerusting, die uitdagings om ‘n vaste oefenlokaal te hê en ander moeilike omstandighede, het die gimnaste met trots, deursettingsvermoë en harde werk gewys wat moontlik is wanneer ‘n mens in jou eie vermoëns glo en weier om tou op te gooi.
“Agter elke medalje lê ure se oefening, opofferings, trane en geloof, asook die moed om telkens weer op te staan wanneer dinge moeilik raak. Dit is hierdie vasberadenheid wat die klub se prestasie soveel meer besonders maak,” voeg sy by.
Coenraad sê sy is trots op al die gimnaste.
“Aan ons ouers, borge en ondersteuners, dankie dat julle deel is van Azure se reis. Elke bydrae, gebed en woord van ondersteuning help ons om ons gimnaste se drome ‘n werklikheid te maak. Ons droom is groter as ons huidige omstandighede. Ons glo dat Azure-gimnastiekklub nog baie hoogtes gaan bereik.”
LEES OOK: Gimnaste ryg medaljes in




