“Gaan vra vir Kelly,” het beide Boeta Appolis en Steveno van Rhyn, beskuldigdes in die hooggeregshofsaak oor die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith, glo aan polisiebeamptes op Maandag 4 Maart verlede jaar gesê.
Dit was twee weke nadat Kelly Smith haar sesjarige dogter as vermis by die Saldanha-polisiestasie gaan aangee het. Die Middelpos- informele nedersetting is een van die buurte wat deur dié polisiestasie bedien word.
Die verhoor-binne -ʼn-verhoor in die hooggeregshofsaak het vandag (Maandag 7 April) in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, voortgegaan.

Verskeie polisiebeamptes, insluitend die hoofondersoekbeampte kapt. Wesley Lombard, het verlede week in die afsonderlike “miniverhoor” getuig. Regter Nathan Erasmus sal na afloop van die getuienis besluit of sogenaamde bekentenisse deur Appolis en Van Rhyn toelaatbare getuienis is.
Hulle staan saam met Kelly tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel nadat Joshlin na bewering in Februarie 2024 aan ʼn sangoma verkoop is.
Kaapse polisie-offisiere wat die verklarings op Dinsdag 5 Maart 2024 afgeneem het asook plaaslike polisielede wat Appolis en Van Rhyn na en van die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem het vóór en ná die aflê van die verklarings, het al getuig.
Volgens die betrokke dokters wat hulle dié dag besoek het, het Appolis en Van Rhyn wel verskeie dagoue beserings aan hul lywe gehad het tydens hul ondersoeke.
Dr. Tanya Zimmery het verskeie ligte skaaf- en kneusplekke aan Van Rhyn gesien, maar na haar mening stem dit nie ooreen met die beweerde helikopter-martelmetode nie. “Dit klink baie brutaal,” het sy gesê en verduidelik dat sy baie erger beserings as gevolg daarvan sou verwag. “Dieper skaafplekke. Frakture en snyplekke. Erge kneusing ”

Die X-strale wat vroeër die dag geneem is, het nie sulke beserings gewys nie.
Lt.kol. Adrian Pretorius het vandag getuig dat Appolis aan hom gesê het hy het sy linkerknie gekap toe hy uit die vangwa geklim het en sy oog teen die muur gestamp toe hy van die polisie af probeer wegkom het.
Sers. Dawid Johannes Fortuin van die teenontvoerdingseenheid was deel van die ondervraging wat omstreeks 22:00 op Maandag 4 Maart 2024 begin het en tot in die vroeë oggendure die volgende dag geduur het. Hy het vandag getuig dat Van Rhyn ná ‘n lang ondervraging hom aangesê het om die waarheid by Kelly te gaan uitvind. Hy het Appolis ook hieroor uitgevra, wat hom ook aangesê het om Kelly te gaan vra.
Van Rhyn het ook gesê dat “Makalema”, ‘n vrou in die plakkerskamp, ook weet waar Joshlin is. Appolis het beaam.
Die polisie het hierop die vrou en haar gesin vir ondervraging gaan haal en hulle huis deeglik forensies deursoek.
Toe die beskuldigdes ná die ondervraging na wagtende voertuie in die kinderbeskermseenheid (FCS) se parkeerarea geneem is, was Kelly daar.
Pretorius het getuig dat Kelly op Appolis geskree het toe hy naby kom. Sy het glo gegil: “Boeta hoekom doen jy dit aan my? Volgens Pretorius het Boeta hierop gesê: “Kelly, jy het dit mos gedoen. Vertel die polisie die waarheid.”
Ten tyde van dié getuienis het Kelly se gesigsuitdrukking waar sy in die beskuldigdebank sit, verander.
Pretorius het gesê Kelly het “begin raas en skel”. Dit stem ooreen met Lombard se getuienis oor hoe Kelly se optrede hom geskok het.
Die verhoor gaan op Dinsdag 8 April voort. Ná Donderdag 17 April skuif die hofverrigtinge na die Wes-Kaap hooggeregshof in Kaapstad en sal Weskusmense ver moet reis om dit by te woon.






You must be logged in to post a comment.