“Wat wil jy hê?” Dit is die voorbarige woorde waarmee ‘n gewapende aanvaller ‘n bejaarde man in sy huis begroet het voordat hy hom met ‘n panga aangeval het.

Frikkie Denton (74) en sy vrou, Maureen (66), was verlede Donderdag 20 Maart omstreeks 09:00 in die huis wat hulle op die plaas Sandheuwel tussen Vredenburg en Saldanha huur. Hulle het ‘n geluid soos water wat loop, uit die solder gehoor. Frikkie het met die trappe aan die buitekant van die huis na die solder opgeklim. Hy het reeds die watertoevoer by die stopkraan toegedraai.

Frikkie Denton (74) kort ná die aanval.

Toe hy die solderdeur probeer oopstoot, was dit van binne af met boublokke vasgepak. Hy het dit met ‘n gesukkel oopgestoot. Die volgende oomblik het ‘n vreemdeling kortaf in Engels vir hom gevra “What do you want?” – voordat panga-hale op hom neergereën het. ‘n Paar kappe het hom teen die kop en in die gesig getref, wat die bloed laat spat het. Die aanvaller het weggehardloop met stukke koperpyp wat hy van die geiser, wat in die solder is, afgekap het.

Frikkie sê dit was meer as een aanvaller, maar kon nie presies sien hoeveel nie. Die een het swart klere aangehad. ‘n Bebloede Frikkie het op die voorstoep om hulp geroep na Maureen, wat nog op die bed gelê het. Toe sy op die stoep kom, was daar soveel bloed dat sy ‘n handdoek moes gaan haal om dit te probeer keer. Die Dentons het ook besef hul wifi-verbinding se drade is geknip.

Maureen kon sien hulle het nie tyd om vir ‘n ambulans te wag nie. Sy het haar seun, Danie, gebel, wat met Frikkie hospitaal toe gejaag het. Hy het verskeie steke aan die kop en in die gesig opgedoen.

Die Saldanha-polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer en van diefstal. In die 27 jaar wat die Dentons dié huis huur, het so iets nog nooit met hulle gebeur nie.

“Dit was ‘n hengse trauma vir ons. Ek is nou saans so bang ek kry glad nie geslaap nie. Ek maak maar tyd in die dag om ‘n bietjie slaap in te haal.”

Hul naaste bure, wat sowat ‘n kilometer verder woon, was reeds op daardie tydstip weg vir die naweek.

Die plaashuis is in dieselfde omgewing waar twee inwoners verlede jaar in afgeleë huise vermoor is. Clint Christians (57) is op 13 April 2024 op die plaas Besaansklip oorkant Orex, en Jose Comacho (77) op Woensdag 1 Mei op sy kleinhoewe in die De Boom-gebied buite Vredenburg, doodgesteek.

Niemand is nog in verband met dié twee voorvalle in hegtenis geneem nie.

Dié kaart van die omgewing naby Vredenburg wys waar die aanval en moorde plaasgevind het. Links is die plaas Sandheuwel, in die middel die plaas Besaansklip oorkant Orex, en regs die kleinhoewe in die De Boom-gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article