‘n Skokkende verhaal het die eerste twaalf dae van getuienis in die hooggeregshof in die Veeldoelige Sentrum (Multipurpose Center) in White City, Saldanha, begin ontvou.

Al die getuies wat tot dusver vir die staat teen Kelly (Raquel) Smith (34), Boeta (Jacquen)

Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) getuig het, het die soms onsinnige en onnodige kruisondervraging deurstaan en voet by stuk gehou.

Regter Nathan Erasmus help gereeld die drie regsverteenwoordigers van die beskuldigdes – adv. Fanie Harmse vir Appolis, adv. Nobahle Mkabayi vir Van Rhyn en adv. Rinesh Sivnarain vir Kelly, reg met die verloop van gebeure of wys hulle tereg. Die verhaal wat tot dusver by monde van polisiebeamptes, familielede, vriende en inwoners geskets is, het reeds op Sondag 18 Februarie 2024 begin. Op dié middag, is getuig, het Kelly Joshlin aangesê om saam met haar na ‘n wit Polo oorkant die kanaal, in Middelposrylaan, te stap.

Joshlin wou weet waarheen hulle gaan, waarop Kelly net gesê het sy moenie vrae vra nie; sy moet net saamkom. Hier is hulle dopgehou waar Kelly en ‘n swart vrou, met klere soos ‘n sangoma aan, eers gesels het. Joshlin het by haar gestaan. Die aanname is dat Kelly Joshlin vir die vrou “gewys” het. Hierna het Kelly iets by die vrou gekry wat sy voor by haar broek ingedruk het. Sy is later gehoor waar sy aan Appolis sê sy het R20 000 vir Joshlin gekry.

Daar is getuig dat sy sou sê die mense het Joshlin vir haar ligte vel en grysgroen oë gesoek. Renz (Lorentia) Lombaard, ‘n vrou wat naby Kelly gebly en gereeld saam met Kelly en Boeta tik en mandrax gerook het, het getuig sy het Kelly en Appolis afgeluister en só van die plan om Joshlin te verkoop én die feit dat Kelly reeds R20 000 gekry het, te hore gekom.

Kelly het haar en Van Rhyn geld belowe sodat hulle sal stilbly oor die plan om Joshlin te verkoop. Lombaard hou vol dat sy nooit geld gekry het nie.

Paulina Tshosa, ‘n inwoner, het getuig sy het Kelly later die aand gesien waar sy en Boeta in ‘n hewige woorde- wisseling gewikkel was. Hy het by die klippe naby die houthuis gesit en aan ‘n stuk metaal geskuur. Kelly het glo aan Appolis gesê: “Ek gaan jou wys!” waarna Tshosa gesien het hoe Kelly Joshlin só wild aan die arm gryp en na hul houthuisie toe trek dat haar een pienk plakkie afgeval het. Sy het gesien hoe Joshlin probeer beduie na die plakkie en haar ma se aandag daarop probeer vestig, maar Kelly het haar net hardhandig die huisie in gesleep.

‘Ek gaan jou wys,’ sê Kelly

Tshosa, wat op pad na haar haarkapper se huis was, het vanuit die hout- huisie gehoor hoe potte, skottelgoed en ander goed in die huisie rondval. Sy het aangeneem dat Kelly haar frustrasies op Joshlin uitgehaal het.

Daarom het Tshosa, toe sy op Dinsdag 20 Februarie besef Joshlin was die kind wat uit Middelpos verdwyn het, dadelik gedink Joshlin is dalk daardie aand seergemaak en moontlik vermoor. Sy het dieselfde dag nog ‘n verklaring by die polisie gaan aflê oor wat sy gesien het. Sy meen dat Joshlin se ma, Kelly, die waarheid moet praat, want Joshlin het nie net “weggeraak” nie.

Uit verskeie getuienisse is Kelly die Maandagoggend baie vroeër as gewoonlik na Carlien Zeegers se huis. Hier het sy ‘n broodjie vir haar jongste dogter gemaak en haar na die kleuterskool sowat vyf minute daarvandaan gevat. Sy het by Carlien die sleutels vir dié se dogter, Kelly Zeegers, se huis kom vra, want sy was veronderstel om dié dag daar te help skoonmaak.

Sy het die sleutel teen middagete teruggebring, dit weer ná middagete kom haal en dit weer teen omstreeks 16:00 teruggebring, terwyl sy deurentyd voorgegee het dat sy by die huis gewerk het.

Kelly was egter glad nie daardie dag by Kelly Zeegers se huis nie, want die kringtelevisiekamera wys vir dié hele dag net haarself en haar kinders. Daar is geen beeldmateriaal van Kelly (Smith) nie, en die kamera is gestel om die enigste twee deure om by die huis in te kom, te wys. Getuienis dui daarop dat Kelly eerder teruggegaan het huis toe om seker te maak dat Boeta weet om Joshlin 14:00 reg te hê sodat die mense wat vir haar betaal het, haar kan kom haal.

‘Ek wou haar stop’

Sy is ook gesien waar sy ‘n swart koelsak pak met onderklere, ‘n T-hemp en ‘n sweetpakbaadjie vir Joshlin pak. Kelly is weer die middag rondom 14:00 gesien. Sy was ontsteld omdat Renz, ene Nielo en Van Rhyn saam met Appolis by die huis was. Lombaard het getuig dat sy Kelly probeer stop het om nie vir Joshlin na die mense te vat nie. Hulle het reeds met die wit Polo oorkant die kanaal gestaan en wag.

“Ek wou haar probeer stop, maar sy wou nie luister nie.” Lombaard het gesê Boeta het nie vir Kelly probeer keer nie.

Kelly is hierna gesien waar sy Joshlin weer na die wagtende wit Polo neem, met die swart koelsak in die hand. Kelly en

Joshlin het saam in die motor geklim voordat dit in die rigting van Diazville weggery het.

Dit was die laaste keer wat Renz vir Joshlin gesien het. Kelly het Appolis, Van Rhyn en Lombaard aangesê om nie met iemand te praat nie en gesê sy sal self vir Joshlin by die polisie as vermis gaan aanmeld, wat sy later die aand gedoen het. Sy het gesê Joshlin het pienk plakkies, ‘n blou T-hemp en ‘n ligte blou denimkortbroek aangehad voordat sy “weg- geraak” het. Kelly het self heelaand saam met die polisie rondgery en verskeie mense besoek, volgens getuienis, maar sy was glo meer besorg daaroor om Appolis te vind as om Joshlin op te spoor.

Sy het die volgende dag aan haar suster, Michkeyla Daniels, ‘n polisiebeampte in die Noord-Kaap, gesê dat Joshlin steeds in die “plakkerskamp” is. Kelly is ook die skepper van die gerug dat Joshlin met ‘n skip na Wes-Afrika geneem is en dat ‘n Nigeriër haar gebel en ‘n losprys geëis het.

Teen druktyd, Woensdag 19 Maart, was Harmse nog besig om Lombaard onder kruisverhoor te neem. Die hof moes verdaag omdat sy emosioneel geraak het.

Steveno van Rhyn
Boeta Appolis
Renz (Lourentia) Lombaard
Michkeyla Daniels Foto: Eric Ntabazalila/NPA

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article