Bergrivier-inwoners sal na verwagting binnekort heelwat meer vir hul krag, water en ander munisipale dienste moet opdok.
Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) staan voor die moeilike taak om munisipaletariewe bogemiddeld te verhoog om “te verseker dat die finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit beskerm word”.
Só het Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, verlede week op ’n raadsvergadering met betrekking tot sy voorlegging van die munisipale konsepbegroting vir 2022-’23 gesê.
“Die pandemie het inderdaad druk op die munisipale begroting geplaas.”
Hy het ook gesê die BM se inkomstestrome neem steeds af sedert die aanvang van die pandemie en bly moeilik om in te vorder.
Volgens hom was die munisipaliteit genoodsaak om met die aanvang van die Covid-19-pandemie in 2020 laer as die gewone tariefverhogings in te stel, hoewel die koste om die dienste te lewer eksponensieel hoër was as die inkomste wat daaruit ontvang is.
Die BM moet dus nou die verlies inhaal en tariewe bogemiddeld verhoog om te verseker dat die werklike koste van dienslewering van diegene wat van die dienste gebruik maak, verhaal word.
Van Rooy het op die betrokke raadsvergadering, wat op 29 Maart plaasgevind het, ’n kort opsomming van die BM se begroting vir die volgende boekjaar voorgehou.
Só lyk die voorgestelde begroting
Hy het gesê die BM se bedryfsinkomstebegroting (kapitaaloordragte en bydraes uitgesluit) beloop R478,751 miljoen.
Die grootste deel van die inkomste word verkry uit munisipale eiendomsbelasting en verbruikerstariewe. Bedryfsuitgawes gefinansier uit eie geledere beloop R493,616 miljoen, met die twee grootste afdelings van bedryfsuitgawes wat bestaan uit salarisverwante uitgawes en grootmaataankope wat 59,7% van die totale bedryfsuitgawes uitmaak.
Die kapitaalbegroting is R74 967 566 en fokus weer op infrastruktuurontwikkeling, en 67,02% van die kapitaalbegroting is aan infrastruktuur en ingenieursdienste toegewys.
“Ons stel ’n aansienlike verhoging in kapitaalbelegging voor om kapasiteit vir toekomstige ontwikkeling te skep en om verouderde infrastruktuur, wat ’n ontwrigting in dienslewering veroorsaak, te vervang,” sê Van Rooy.
Infrastruktuurbesteding, wat by die kapitaalbegroting ingesluit is, sal as volg toegewys word: Waterdienste – R21 507 435; elektrisiteit – R8 020 000; sanitasie-infrastruktuur – R10 423 053; en paaie-infrastruktuur – R10 290 078.
Sport- en ontspanningsfasili-teite kry R4 925 000 en sosiale en gemeenskapsfasiliteite ontvang R1 910 000 terwyl die res van die kapitaalbegroting bestaan uit masjinerie en toerusting, meubels, vervoerbates asook rekenaartoerusting wat benodig word vir die lewering van dienste aan die onderskeie Bergrivier-gemeenskappe.
In ooreenstemming met die kapitaalfinansieringstrategie sal ’n nuwe lening van R40 miljoen in die 2022-’23-boekjaar opgeneem word.
Verdere eie finansiering bestaan uit ’n bedrag van R18 857 000 uit die kapitaalvervangingsreserwe. Hierbenewens sal R16 110 566 deur middel van voorwaardelike skenkings tot die kapitaalbegroting se finansieringsbronne toegevoeg word.
Personeelonkoste bly ’n groot komponent van die munisipale begroting.
“Die munisipaliteit is verbind tot die kollektiewe bedingingsproses en het geen keuse as om voorsiening te maak vir ’n algemene salarisaanpassing van 4,9% nie. Personeelonkoste as ’n persentasie van algehele uitgawes beloop 33,74% en is binne die norm vir hierdie afdeling van uitgawes. Dit sal noukeurig oor die medium termyn se inkomste- en uitgaweraamwerk bestuur word om te verseker dat dit binne aanvaarbare perke bly.”
Van Rooy het benadruk dat die BM kennis neem van die huidige ekonomiese klimaat sowel as die bekostigbaarheidsdrempel waarmee verbruikers en belastingbetalers gekonfronteer word.
Die nasionale tesourie beveel munisipaliteite aan om tariefverhogings te motiveer wat hoër is as die boonste punt van die beraamde inflasiekoers, en die BM het daarom ’n omvattende paragraaf vir elke tariefverhoging in die uitvoerende opsomming van die hoofbegrotingsdokument ingesluit.
Die voortgesette styging in die prys van elektrisiteit bly ’n bekommernis en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het bevestig dat die Eskom-verhoging aan munisipaliteite 8,61% sal wees, wat ’n tariefverhoging van 7,8% aan die eindgebruiker tot gevolg sal hê.
Van Rooy het dit egter beklemtoon dat die finale munisipale tariefverhoging eers bepaal sal word sodra die finale tariefverhoging deur Nersa bevestig is.
“Die uitdaging is om méér met die beskikbare hulpbronne te doen en waarde vir geld te verseker met elke transaksie waar geld van die publiek bestee word.
“Ons het deur hierdie moeilike tye steeds daarin geslaag om ons onderneming teenoor ons gemeenskappe met toewyding na te kom deur topgehalte en betroubare dienste te lewer en om ’n omgewing te skep waar almal werklik op ’n menswaardige manier kan leef, werk, leer en speel. Dit is ook bevestig deur die mening van die ouditeur-generaal, wat aan die BM ’n sesde opeenvolgende skoon oudit toegeken het.”
Die Bergrivier-munisipaliteit nooi almal wat vir die deernis-subsidie kwalifiseer, om aansoek te doen vir die bystand wat beskikbaar is. Kwalifiserende behoeftige huishoudings sal ’n deernis-ondersteuningspakket ontvang, wat bestaan uit 50 eenhede gratis elektrisiteit, 6 000 liter gratis water asook ’n 100%-subsidie op ’n standaard huishoudelike vullis- en riooltarief per maand. Huishoudings met ’n gesamentlike huishoudelike inkomste van minder as R5 000 per maand sal vir die subsidie kwalifiseer. Daarbenewens sal ’n subsidie van 60% op eiendomsbelasting vir kwalifiserende pensioentrekkers wat as hulpbehoewend geregistreer is, verskaf word.
Van Rooy het gevra die gemeenskap moet aan die begrotingsproses deelneem deur die komende begrotingsvergaderings by te woon en insette te lewer voordat die begroting vir finale goedkeuring ter tafel gelê word.




