Die oudpolisieman van Vredenburg wat van driedubbele moord aangekla word, het ook ’n hele paar ander geraamtes in sy kas.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het Jean-Paul Malgas (39) wat na bewering op 7 Mei twee pasiënte en ’n polisiesersant in die New Somerset-hospitaal doodgeskiet, asook ’n ander polisieman van Hopefield op 5 Mei met ’n mes gesteek het, ’n stewige misdaadrekord en ’n geskiedenis van geweld wat tot 2003 terugstrek.

Helfrich sê Malgas het al van 2003 met die gereg in ’n Graaff-Reinet-saak gebots toe hy vir aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekeer is. Hy is egter onskuldig bevind. In April 2006 is Malgas vir handel in dwelms vasgetrek en in Mei 2006 vir die onwettige besit van ammunisie. Albei sake teen hom is teruggetrek.

Op 1 April 2021 het Weslander berig dat Malgas op 27 Maart verlede jaar die Vredenburg-polisiekantoor binnegestap en ’n polisiebeampte wat besig was om ’n saakdossier oop te maak, aangerand het.

Ook dié saak teen hom is teruggetrek. In 2008 is hy in Atlantis vir die besit van vervalste note skuldig bevind en in 2011 is hy skuldig bevind aan diefstal nadat hy ongeveer R5 000 se treinspoor-ystersirkels van Transnet in Koperfontein gesteel het.

Volgens Helfrich het Malgas van 19 September 2003 tot 7 November 2006 by die Vredenburg-polisiekantoor gewerk, waarna hy oneervol uit die polisiediens ontslaan is.

In die tyd wat hy in Vredenburg gewerk het, het Malgas se kollegas wat onbewus was van sy misdadige aktiwiteite, hom as ’n “goeie en ywerige polisieman” beskou, het Helfrich vertel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article