Die lyk van ’n volgroeide pasgebore babaseuntjie is Maandag 30 Mei by Darling se rioolwerke gevind.
Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die polisie die gru-ontdekking om 11:30 gemaak.
Die naelstring en nageboorte was steeds aan die kindjie vasgeheg.
Filander sê dis hartseer dat swanger vroue “kortpaaie” kies wanneer dit by ongewenste swangerskappe kom terwyl plaaslike organisasies soos die Darling Outreach Foundation hulle en hul babas kan help.
Hy sê babas kan selfs na die polisiekantoor gebring word en ’n vrou kan haar kind wettiglik en sonder vrees vir vervolging aan die owerhede oorhandig.
Hy smeek vroue om nie weerlose kindertjies net eenvoudig weg te gooi en vir dood te laat nie.
Die polisie versoek die publiek om asseblief met inligting oor hierdie voorval na vore te kom. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Skakel sers. Megan Collison-Adams by 022 409 1300 of Stop Misdaad se tolvrye nommer 082 10111.



