Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei-
dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Die liggaam van ‘n onbekende man is Vrydagoggend 22 Mei onder ‘n brug op die N7 naby Malmesbury gevind. Daar was ‘n sak oor die man se kop, en ‘n geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Fernando Klaase (31) se lyk is Saterdagoggend (23 Mei) van ‘n kragpaal by die rioolsuiweringsaanleg in Vanrhynweg in Vredendal gehaal.
Angle Leeroy (18) se lyk is Saterdag 23 Mei om 04:30 in Swartz-singel, Lambertsbaai, ontdek met ‘n steekwond aan die nek. Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
Nathan de Kok (19) het Maandag 25 Mei in die Malmesbury-landdroshof verskyn op aanklag van die moord op Freddy Abrahams (51). Abrahams het nog Saterdagoggend (23 Mei) geleef toe hy deur paramedici in Agtstelaan, Darling, met meswond aan die nek ontdek is. Hy is onderweg na die hospitaal oorlede. ‘n Moorddossier is geopen.




