Die Vredenburg-polisie het hierdie week bevestig dat die lykskouing op klein Eljay Wallen Meyer voltooi is en dat daar volgens die forensiese verslag bevind is dat Eljay hom heelwaarskynlik na sy dood geval het. Die ondersoekbeampte in die voorval het ook beklemtoon dat daar geensins bewyse gevind kon word dat hy aangerand is nie of dat daar enige misdaad by die sewejarige se tragiese dood betrokke was nie.
Weslander het die afgelope week onder heelwat kritiek op sosiale media deurgeloop oor die aanvanklike beriggewing oor Eljay se dood. Grootliks omdat daar uit ander mediageledere bespiegel is dat Eljay moontlik aan die hand van ’n boosdoener gesterf het, en inwoners vinnig was om die tragiese gebeurtenis as ’n moord te beslis. Met geweld onder jong kinders wat by die dag toeneem, het dit bykans tweede natuur geword om die ergste te verwag wanneer kinders vermis word. Die 13-jarige Jerobejin van Wyk van Klawer is net een van die meer onlangse afskuwelike dade wat teen kinders gepleeg word. Die name van kinderslagoffers wat die afgelope paar jare koerantopskrifte landwyd gehaal het, is eindeloos en daarom tref hierdie soort nuus altyd harder. Weslander verbind hom egter tot die Suid-Afrikaanse Persraad se etiese kode van verantwoordelike beriggewing om op die manier nie verder by te dra tot families se hartseer sonder voldoende inligting en feite nie, en het dus daarom besluit om sensitief te handel met die beriggewing in die spesifieke geval in afwagting op die forensiese verslag om die oorsaak van sy dood te bevestig.




