Harde werk, toewyding en deursettingsvermoë het Donovan Don geplaas waar hy vandag is.
Dié jongman van Velddrif is gekies om hom by die o.20- Junior Springbokspan aan te sluit, waar hy sy land en die Weskus by die “Six Nation Summer Series” in Italië gaan verteenwoordig. Hy is gekies om sy merk as veelsydige agterspeler te maak.
Don vertel toe hy die nuus ontvang het dat hy die span gehaal het, was dit ’n emosionele oomblik vir hom – só groot dat hy nie sy gevoelens kon beskryf nie. “Ek kon net die Here dankie sê vir ’n droom wat waar geword het,” vertel hy.
Don se liefde en passie vir rugby het al op ’n jong ouderdom ontwikkel. Met sy pa, wat ook rugby gespeel het, as voorbeeld het hy die eerste smakie van die sport toe al beleef. Don het sy belangstelling in rugby by Noordhoek Primêr begin uitleef, waar sy grondslag gelê is en hy gegroei het.
Don het op 12 en 13 jaar die Boland-span/Kusstreek gehaal. Hy is in 2015 gekies om deel van die Vyftiental-rugbyweek te wees.
Daarna het Don voortgegaan en sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Louwville begin, waar hy die afrigter Alfredo Barends ontmoet het, wat ’n tweejaarbeurs by Welkom Gimnasium bewerkstellig het.
“Hier het ek goeie rugby gespeel en ek is meer blootgestel aan nog geleenthede.”
Don was ook lid van die Griffons-span, waarna hy die geleentheid gekry het om vir die Junior Springbokspan te gaan oefen.
Om sy land en die Weskus te teenwoordig, is vir Don ’n groot eer. Sy familie, afrigters en gemeenskap is sy grootste ondersteuners, en hy is dankbaar daarvoor.
“Ek kon sien hoe my ouers altyd hul laaste gee as ek iewers heen moes gaan. So, ek het dit nooit as vanselfsprekend aanvaar dat ek iets moes kry nie.”
Sy boodskap aan jongmense is dat dit nie saak maak in watter omstandighede jy is nie – deur harde werk kom ’n mens soms stadig, soms vinnig by jou droom.
“Moet net nie ophou droom nie. Stel jou vertroue in God, en glo wat jy wil hê of doen, gaan gebeur; moet nooit moed verloor nie.”
Don voeg by hy is trots op waar hy vandag is en wat hy tot dusver bereik het. “Ek sal nooit vergeet waar ek vandaan kom nie; dit is my nederigheid wat my tot hier gekry het en my sal deurdra.”
Die reeks skop aanstaande Vrydag (24 Junie) af.





