Die oorblyfsels van die Cronjé-gesin se stoepdak.


“Soos ’n stuk papier is ons dak opgelig. Dis net die bloed van Jesus wat ons beskerm het.”

Só vertel Tersia Cronjé van Velddrif nadat hul stoepdak deur ’n soort mini-tornado of beter bekend as ’n watertuit, afgeruk is.

’n Gedeelte van Velddrif is Saterdag 13 Augustus deur dié seldsame verskynsel getref en het mense op sosiale media aan die gons gehad.

Soos Cronjé verduidelik het sy en haar man, Natie Cronjé, omstreeks 16:14 Saterdag rustig op hul toegeboude stoep gesit en televisie gekyk – iets wat hulle gereeld smiddae doen. Dit is toe dat sy harde reën begin hoor het, wat later al hoe harder geword en soos hael begin klink het.

“Dit het alles so vinnig gebeur en ons dak is net afgeruk. Ek het nog nooit so iets in my lewe beleef nie,” vertel sy. Cronjé is baie bly dat sy, haar man sowel as haar honde nie beseer is tydens die gebeurtenis nie. “Ek is bly dit het nie ons glasdeure getref nie, want ons kon dood gewees het. Sinkplate van die dak het sover as 800 m van ons woning gelê.”

Skade is aan ander dele van die gesin se erf ook sigbaar. “Ons het ook bote in ons erf wat omtrent ’n ton weeg – dit het tot aan die ander kant van die erf gelê.”

Elani Heyneke, senior weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse weerkantoor in Kaapstad verduidelik dat die watertuit onder ’n goed ontwikkelende wolkkolom oor die water (rivier of see) ontwikkel het. “Hierdie is nie ’n hewige donderstorm wat soms in die perfekte toestande tornado’s kan voortbring nie, veral nie in die binneland van Suid-Afrika nie,” vertel sy.

“Die watertuit het na die land beweeg, waar dit ongelukkig skade aan ’n paar huise in Velddrif veroorsaak het. Dit wil voorkom of watertuite nie so algemeen langs die Weskus is nie en dus hoef die inwoners nie bekommerd te wees nie,” voeg sy by.

Bergrivier-munisipaliteit se burgemeester Ray van Rooy stem dat die hand van die Here oor Velddrif was en dat daar nie baie skade in die dorp aangerig is nie. “Maar my hart gaan uit na dié wat wel skade opgedoen het. Ek dink aan julle en ons is saam met julle in hierdie moeilike tyd.”

Van Rooy wil ook die munisipale werkers en wyksraadslid bedank wat vinnig ingespring het om te help. “Ek wil ook dankie sê aan die gemeenskap wat uitgereik het en gehelp het.”

Die Cronjé-familie is ook dankbaar vir die gemeenskap wat hul harte oopgemaak en bystand gelewer het.

“ ’n Mens besef nie watter krag wind en water werklik het nie. Ons probeer nog alles inneem wat gebeur het en is nog effens geskok.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article