Saldanha het Saterdag sy beste vir laaste gehou toe die span in ’n moet-wen-wedstryd teen Caledon vonkelwyn-rugby opgedis het.
Saldanha, die verdedigende Boland-kampioen, het in sy laaste top-12-wedstryd die stryd 39-0 oordonder en sodoende sy plek in die laaste vier verseker.
Saldanha, wat voor die wedstryd die derde plek op die punteleer beklee het, met Caledon eerste, moes eenvoudig volpunte uit die stryd kry om sy titel te kon verdedig, en die blou tsoenami het gedoen wat ’n tsoenami doen – “vernietig”.
Caledon kon net nie die tuisspan se verdedigingslinie breek nie en die tuisspan se rotsvaste verdediging en aanvallende rugby het die besoekers se kanse om die uitspeelronde te haal in die niet laat verdwyn.
Met alle paaie wat Saterdag na die Boland-stadion in Wellington vir die laaste vier lei, sal Saldanha ’n omgekrapte Hawston die stryd vir ’n plek in die eindronde aansê. Saldanha sal wil vergoed vir die 2016 eindronde toe die einste Hawston die titel in die laaste sekondes verseker het. Die kampioen sal ook wil seker maak die geskiedenis herhaal hom nie en sal met Hawston die “score wil settle”.
Wesbank se koringboere sal in die ander wedstryd teen Bella Vista van Ceres speel.
Terwyl dit op sosiale media gons oor ’n moontlike Wesbank/Saldanha-eindstryd sal dié twee spanne eers die laaste hekkie moet oor, en maklik gaan dit gewis nie wees nie.
Wesbank het Saterdag 30-36 teen Robertson vasgeval, maar die Swartland-kampioen is steeds eerste op die punteleer. St. Helena het egter op sy tuisveld teen Roses van Wellington teleurgestel. Die Agterbaaiers met ’n wiskundige kans moes ook vyf punte uit die stryd kry om te kwalifiseer.
Roses het egter 36-23 gewen.
Top-12-uitslae:
Groep A
Rangers Robertson 36-30 Wesbank
Hawston 53-15 Citrusdal
St. Helena 23-36 Roses United
Groep B
Darling 22-16 Bella Vista
Saldanha 39-0 Caledon
Delicious NW 29-31 Montagu





