Die ondersoek deur die spesiale ondersoekeenhede en spesiale tribunale na omstrede kontraktoekennings deur die Saldanhabaai-munisipaliteit duur voort.

Die aanvanklike ondersoek is in Desember 2020 deur die president, Cyril Ramaphosa, geproklameer.

In dié proklamasie word verklaar dat die munisipaliteit ondersoek word vir die aanskaffing of kontraktering van sekuriteitsdienste.

Die ondersoekspan poog om te bepaal of die plaaslike munisipaliteit onder meer regverdig, mededingend, deursigtig, billik, of koste-effektief was met die aanstellings.

Intussen is ’n nuwe proklamasie in Desember 2022 in die Staatskoerant gepubliseer, wat daarop dui dat die ondersoek verleng is.

Die tribunaal ondersoek nou, saam met die aanskaffing van, of kontraktering vir die sekuriteitsdienste, ook professionele raadgewende ingenieursdienste vir die formalisering, hersonering en onderverdeling, verwante omgewingsgoedkeuring en landmeterdienste vir deel 24 van Plaas 282 in Middelpos, Saldanha, ingevolge ’n bod-nommer.

Ondersoek sal ook ingestel word na die “strategiese vennootskap gesluit tussen die munisipaliteit en die Saldanhabaai-toerismekantoor”.

Die voormalige toerismekantoor (SBTO) was ’n diensverskaffer aan die munisipaliteit. As deel van hul mandaat moet ’n munisipaliteit toerisme bevorder hoewel hulle ’n diensverskaffer kan aanstel om die dienste te lewer. In die geval van die plaaslike munisipaliteit is die Saldanhabaai-toerismeorganisasie as ’n diensverskaffer aangestel. Weslander het al oor die jare berig oor die SBTO se omstrede geskiedenis. Die organisasie het sedertdien toegemaak. Die uitbetaal van “openbare geld” aan dié toerisme­organisasie word ook ondersoek.

Daarmee tesame word die aanstelling van ’n persoonlike assistent (verbonde aan die speaker en raad), die burgemeestersondersteunings­diens, die politieke administrateur, ’n strategiese adviseur en ’n kommunikasiebeampte vir die uitvoerende burgemeester in die jaar 2019-’21 ondersoek.

Marius Koen was toe uitvoerende burgemeester van die munisipaliteit.

Laastens word gekyk na die afskryf deur die munisipale raad van “onreëlmatige uitgawes van R1 757 758 en R9 959 912, soos deur die ouditeur-generaal van Suid-Afrika geïdentifiseer in die notas tot die munisipaliteit se jaarlikse finansiële state tot op 30 Junie 2019”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article