’n Skietvoorval het Maandag (22 Mei) op ’n plaas in Piketberg plaasgevind.

Die skietery was omstreeks 19:45.

Volgens kaptein Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus polisie-distrik, is ’n Lesotho-burger vyf keer geskiet. Helfrich sê dié man, wie se identiteit nog nie bekend gemaak kan word nie, is op die toneel dood. Hy het drie kopwonde en twee skietwonde aan die lyf gehad. Sy bevestig ook ’n tweede slagoffer sterk tans in die plaaslike hospitaal aan. Voorlopige inligting dui daarop dat hierdie man niks met die aanval te doen gehad het nie en bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was.

“Volgens getuies het drie mans met balaklawas na die koshuis gegaan, waar onder andere twee Lesotho-burgers gebly het, en telkemale na dié twee geroep. Die oorledene was op daardie tydstip in die badkamer, en toe hy hoor iemand roep hom, het hy geantwoord.”

Helfrich sê die aanvallers het na die badkamers gegaan en op die slagoffer begin skiet. “Al die inwoners van die koshuis het in die rigting van die vrugteboord gehardloop, waarna die aanvallers op hulle geskiet het. So is ’n onskuldige ernstig gewond.”

Volgens Helfrich blyk dit uit die ondersoek dat die aanvallers vroeër die aand in twee voertuie in die omgewing opgemerk is en glo ’n geruime tyd in naburige dorpe oor die twee Lesotho-burgers rondgevra het.

Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, sê die voorval is vir hom en die gemeenskap ’n groot skok. “Ons is gewoond aan die stilte en hierdie soort ding gebeur nie juis hier nie.” Hy sê dit bewys weer eens dat inwoners versigtig en waaksaam moet wees. “Wees altyd op die uitkyk en meld misdaad by die polisie aan.”

Hy is in sy skik met die vinnige optrede van die plaaslike polisie, buurtwagte en ander veiligheidsinstansies en bedank almal vir hul flink optrede rakende die voorval. Helfrich bevestig die ander Lesotho-burger het daarin geslaag om van die aanvallers af te vlug.

“ ’n Klag van moord en poging tot moord word ondersoek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article