Die haglike huis by Librastraat 37 op Vredenburg staan glo al 10 jaar leeg en word deur rondlopers gebruik.Foto: Alida Buckle


Nuwe wetgewing gaan dalk pro­bleem­huise in Weskusdorpe takel.

’n Probleemhuis in ’n straat is nie net vir inwoners ’n seer oog wat die eiendomswaarde van die hele buurt laat daal nie, dit lok ook rondlopers en dwelmhandelaars wat naderhand ’n openbare oorlas word.

Weslander het al verskeie klagtes van lesers ontvang oor ’n paar haglike huise in die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se gebied. Huise waaroor gereeld gekla word en optredes deur SBM se wetstoepassingsbeamptes en die Weskus-polisie noop, is onder meer Librastraat 37 in Vredenburg, en die leë huis op die hoek van Raven- en Seesterstraat in Saldanha.

In Februarie 2022 is oor Lochnerstraat 22 en twee onbewoonde huise in Tierkloofstraat en Nassaustraat berig (“Haglike huis van polisie pla”, 10 Februarie 2022, Weslander), met inwoners wat keelvol was vir dié probleemeiendomme in hul midde. Die huise is intussen skoongemaak en van hulle word bewaak.

“Dit gaan nie net oor die maatskaplike probleme wat daarmee saamgaan nie,” het Darrelle Scheepers, eienaar van Remax-eiendomsagentskap op Saldanha en Vredenburg, gesê.

“Só ’n probleemeiendom bemoeilik die verkoop van ’n aangrensende huis aansienlik. Mense sal nog verder af in die straat koop, maar wil nie reg langs só ’n huis bly nie. Dit laat die waarde van al die eiendomme in só ’n buurt val,” het sy gesê.

Die burgemeester, André Truter, het jare lank gesukkel om kommunikasie te bewerkstellig tussen SBM en die departement van openbare werke, aan wie die meeste van die probleemeiendomme in die gebied behoort. Hy stem saam dat probleemgeboue die eiendomswaardes laat val en beklemtoon dat dit bydra tot ’n negatiewe impak op die plaaslike ekonomie.

Hoewel dit nie sy verpligting is nie en die geboue se instandhouding die provinsiale en nasionale regering se verantwoordelikheid is, het hy tog ter wille van die inwoners in SBM volgehou en uiteindelik die departement so ver gekry om van die probleemgeboue skoon te maak en sekuriteitswagte aan te stel om die persele 24-uur te bewaak. Een van hulle is die huis in Ravenstraat.

Tereza Burger, kommunikasiebeampte van SBM, het bevestig dat sy wetstoepassingsafdeling opgetree het oor klagtes by die betrokke huise.

“Die hooffokus was om die openbare oorlas wat deur die rondlopers geskep is, aan te pak.”

Sy het benadruk dat die wetstoepassingsafdeling voorheen geen munisipale verordeninge met betrekking op probleempersele gehad het nie.

“Die Raad het egter onlangs nuutgepromulgeerde munisipale verordeninge spesifiek met betrekking tot probleemgeboue aanvaar.”

Ingevolge die Verordening Insake Probleempersele 2022, sluit ’n probleemeiendom onooglike of aanstootlike geboue wat deur die eienaar verlaat is, wat oorbewoon of onwettig bewoon word, wat gesondheidsgevare vir mense inhou, en waar vullis of afvalstowwe opgehoop, gestort, geberg of agtergelaat is, in.

Ook geboue waaroor klagtes van die publiek ontvang is oor misdadige aktiwiteite, wat deels voltooi of struktureel swak is, en waarvoor daar nie belasting of diensteheffings betaal word nie.

Vervolgens het Burger gesê is die wetstoepassingsafdeling tans besig om ’n opname te doen om al die problematiese geboue in die munisipale gebied te identifiseer.

“Nadat hierdie proses gefinaliseer is, sal stappe teen die eienaars van sulke eiendomme geneem word ingevolge die betrokke munisipale verordening,” aldus Burger.

Sy het voorts gesê dat die munisipaliteit die inligting oor die betrokke probleemeiendomme beskikbaar sal kan stel sodra die opname voltooi is.

. Is daar ’n probleemeiendom in jóú buurt?

Laat weet ons gerus by 082 576 0453 of stuur e-pos na nuus@weslander.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article