“Jy gaan nêrens.” Paternoster het met goeie verdediging die tuisspan van Velddrif van die 25ste minuut in die eerste helfte op die agtervoet gehou.Foto: Noluvu Ludidi


Dit is terug na die tekenbord vir Velddrif.

Die span het Saterdag in sy laaste eersteronde-wedstryd op sy tuisveld ’n oorwinning op ’n skinkbord aan Paternoster gegee en die afrigters wonder seker steeds wat verkeerd geloop het.

Velddrif, wat vinnig 20-0 voor was en met ’n rugbyles wat op die besoekers wag, het egter nie met die besoekers se veggees rekening gehou nie. Paternoster was soos ’n dieseltrein, of soos dit op sosiale media gons: “Pato was soos die rent, hy kom aanmekaar”.

Velddrif het vroeg die wedstryd oorheers, en het met hope balbesit en gebieds­voordeel die tuisskare op hul voete gehad en die besoekers moes met byna geen balbesit net verdedig. Paternoster het egter koelkop gebly en die wedstryd het ’n nuwe rigting ingeslaan toe die besoekers ná ongeveer 25 minute in die eerste helfte na ’n hoër rat oorgeskakel het.

Velddrif, wat die meeste van die aanvalswerk gedoen het, moes daarna keer vir al wat hulle werd is en die spanne het gaan water drink met die tuisspan steeds 20-17 voor.

’n Opwindende tweede helfte het voorgelê, want Paternoster moes wen om sy tweede plek te verstewig, terwyl die tuisspan ook met ’n oorwinning sy posisie op die punteleer sou verbeter.

Velddrif het egter in die tweede helfte hopeloos te veel foute begaan en die besoekers, wat dit in punte omskep het, het die wedstryd met 23-29 beklink en sodoende ook ’n bonuspunt verdien.

Met die twee spanne se eerste ronde nou voltooi, wag harde werk in die tweede ronde op albei spanne.

. Langebaan het Saterdag op sy tuisveld die besoekers van die grafkelder onthaal. Die tuis­span het die wedstryd 28-26 gewen om sy eerste ronde op ’n wennoot te eindig. Lange­baan sluit die eerste ronde in die sewende plek af, terwyl Young Hearts voorlopig in die vierde plek is, met St. Helenabaai wat nog twee wedstryde moet speel.

Die Agterbaaiers kan met twee goeie oorwinnings in die derde plek eindig, terwyl ’n nederlaag teen Mamre die span in die vierde plek kan laat eindig, met Reuben Abels se troepe dan vyfde.

Vredenburg se Burg Boys wat ’n nagmerrie-seisoen beleef, is tans tweede laaste op die punteleer, met een wedstryd oor, terwyl die verdedigende kampioen, Saldanha, ’n vyf-punte-voorsprong oor Paternoster het.

. Volledige uitslae: Weskus: Velddrif 23-29 Paternoster, Koringberg 17-29 Piketberg en Langebaan 28-26 Young Hearts. Swartland: Villagers Wittewater 3-43 Moorreesburg en Darling 41-13 Saron.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article