Langebaan het nou ’n hub van diens vir die gemeenskap, gedryf deur die gemeenskap, danksy Team Langebaan.

Team Langebaan, wat die dorp se buurtwag is, het ’n nuwe tuiste in die Tolhuisie, op die hoek van Diamant- en Oostewalstraat, gevind. Die eens vervalle huisie, waar dwelmverslaafdes en kwaaddoeners gereeld gekuier het, is nou die tuiste van die buurtwag, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sowel as ander projekte wat deel van Team Langebaan is.

“Die idee was om ’n veilige ruimte te skep waar inwoners kan kom vir hulp –in ’n deel van die dorp wat baie meer toeganklik is,” sê Peter Lindenberg, mede-voorsitter van die GPF.

Team Langebaan is sowat 12 jaar gelede gestig deur inwoners wat ’n verskil in die gemeenskap wou maak. Vanuit dié organisasie het die gewilde Blow the Whistle gekom, waar kinders (en grootmense) jaarliks meer geleer het oor die polisie en ander wetstoepassers en dit as ’n geleentheid gedien het vir die gemeenskap om bymekaar te kom.

Volgens Dave Allam, mede-voorsitter saam met Lindenberg, is gesinsgeweld een van die mees algemene misdrywe in die dorp. Dit was dus belangrik om dit so maklik as moontlik vir slagoffers te maak om hulp te kry.

Allam voeg by die ondersteuning wat Team Langebaan ontvang het, is ongelooflik. “Ons het skenkers wat alles van omskakelaars tot finansiële ondersteuning vrywillig gee. Dit was nie vir ons nodig om enigiemand vir enigiets te vra nie – dit het alles net ingestroom,” sê hy.

Só ook is die Tolhuis “geskenk”, die munisipale rekening word deur ’n plaaslike onderneming betaal en die opknappingswerk aan die eens toegegroeide erf is alles pasella gegee.

“Dit is nie genoeg om te sit en wag dat iemand anders jou probleme gaan oplos nie. Team Langebaan en hierdie projek is getuienis van wat gebeur wanneer ’n gemeenskap besluit om homself te help,” meen Lindenberg.. Besoek Team Langebaan Neighbourhood Watch se Facebookblad vir nog inligting oor Team Langebaan en sy vele projekte.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article